Local News

Polokwane se Ruan Ferns gekroon as Afrika-armdrukkampioen

Polokwane se Ruan Ferns (20) is as Afrika-kampioen in armdruk gekroon ná ’n sterk vertoning in Ghana met goud en silwer in sy klas.

POLOKWANE – Na afloop van die onlangse Afrika Armdrukkampioenskappe staan Ruan Ferns (20) voor ‘n moeilike besluit: die Afrika Spele of die finale rondtes van die Wêreldkampioenskappe later vanjaar.

Ruan het Suid-Afrika vroeër vandeesmaand in Ghana verteenwoordig, waar hy as Afrika-kampioen in sy gewigs- en ouderdomsklas gekroon is.

Ruan Ferns bring goud huis toe en staan trots op die podium vir Suid-Afrika.

Hy het ook vir beide die Afrika Spele en die Wêreldkampioenskappe gekwalifiseer.

Trots ná Ghana sukses

“Ek voel trots om as Afrika-kampioen gekroon te wees. Dit is ‘n eer en bring oorweldigende emosies van vreugde mee. Dit is die erkenning van maande se harde werk, oefening, dissipline en opofferings.

“Dissipline en opofferings is uiters belangrik vir my sukses. Dit vorm die fondasie vir volgehoue langtermynprestasie. Dissipline help my om gefokus en op die regte pad te bly en om ‘n positiewe uitkyk te behou,” sê Ruan.

Volgens hom was dit ‘n emosionele oomblik om met Suid-Afrika se vlag op die podium te staan – ‘n hoogtepunt in sy loopbaan en die vervulling van maande se harde werk.

“Dit voel ongelooflik om deel te wees van die elite groep atlete wat die land kan verteenwoordig. Dit voel soos ‘n leeftyd se drome wat waar geword het. Die opofferings, tafeloefensessies, ure in die gimnasium en laat aande was die moeite werd,” vertel hy.

Prestasie in verskeie afdelings

Suid-Afrika het ‘n algehele derde plek by die 15de Afrika-kampioenskappe behaal, met 22 lande wat deelgeneem het. Ruan het aan beide die regter- en linkerarmafdelings deelgeneem.

Ruan Ferns met Suid-Afrika se derdeplek-trofee by die Afrika-kampioenskappe.

Hy het goud met die linkerarm gewen en silwer met die regterarm verower.

“Ek het ook in die senior afdeling deelgeneem en moes teen mans buite my klas armdruk. Dit was ‘n uitdaging, maar daar was trotse oomblikke toe ek die ouer manne een vir een kon platdruk. Die adrenalien het gepomp en die opwinding van oorwinning was groot. Dit is vir my persoonlik ‘n geweldige prestasie om my vermoëns te toets en myself te bewys,” sê hy.

Ruan Ferns in aksie tydens die Afrika Armdrukkampioenskappe in Ghana.

Toekomstige doelwitte en geloof

Ruan se volgende doelwit is om weer ‘n podiumplek te behaal, terwyl hy fokus op die verbetering van sy tegniek en krag om op ‘n hoër vlak sukses te behaal.

“Ek wil ook nuwe strategieë op die tafel implementeer en goud of silwer huis toe bring by die Afrika Spele of die Wêreldkampioenskappe. Om ‘n Afrika-kampioen te wees verg vasberadenheid en die vermoë om vir jouself te bewys dat die stryd deel van die seën kan wees.

“Geloof speel ook ‘n groot rol in my sukses. Sonder gebed en geloof in God sou niks moontlik gewees het nie.”

Ruan het ook sy dank uitgespreek teenoor almal wat in hom glo en hom ondersteun.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button