Gru-ongeluk: Polokwane man se lewe verander in ’n oogwink
Anthony Coetzee was in dieselfde botsing betrokke waarin ‘n ander inwoner, Frikkie Nel, ook ernstige beserings opgedoen het.
POLOKWANE – Voor 23 Mei was Anthony Coetzee (29) ’n pa van twee seuns, ’n toegewyde eggenoot en iemand wat dit geniet het om buite te werk.
Op daardie Saterdagaand het sy lewe, en dié van sy gesin, egter onherroeplik verander toe hy betrokke was in dieselfde botsing waarin Frikkie Nel ernstig beseer is.
Anthony onthou min van die ongeluk, maar sê die gebeure keer stelselmatig na hom terug.
LEES OOK: Jong man ernstig beseer ná botsing buite Polokwane
Wat Anthony van die ongeluk onthou
“Ek onthou ons was op pad huis toe, waar ons die naweek sou deurbring voordat ons Maandag weer moes gaan werk. Ek het met Danielle, my vrou, gepraat en haar laat weet ek is amper by die huis.
“Ek het net begin aan die slaap raak toe ek remme hoor skree en Ethan uitswaai. Ons het tot stilstand gekom en die volgende ding wat ek onthou, is dat daar baie mense rondom ons was.
“Daarna onthou ek dat ek in die ambulans was, en toe het ek in die intensiewesorgeenheid wakker geword,” vertel hy.
Ernstige beserings en operasies
Anthony het ernstige hoofbeserings opgedoen wat sy geheue beïnvloed, terwyl sy knie gebreek is. Tydens ’n dringende operasie het dokters agt skroewe en ’n plaat in sy been geplaas.

“Hulle moes ook my knie weer in posisie sit. Al die spiere was tot teen die been afgeskeur en daar is ’n deel van my kuit weg. Omdat my been so ernstig beseer is, gaan ek vir ’n lang tyd nie kan werk nie. Ek gaan baie fisioterapiesessies moet bywoon,” sê hy.
Lang pad van herstel
Benewens fisioterapie sal Anthony ook sielkundige ondersteuning ontvang en gereelde opvolgondersoeke moet ondergaan om seker te maak dat sy beserings behoorlik herstel.
Hy sal ook weer moet leer loop.
Die gesin het ’n mediese fonds met ’n noodongelukvoordeel wat die hospitaalkoste gedek het, maar baie van die verdere uitgawes sal uit hul eie sak betaal moet word.
Werk en onseker toekoms
Volgens Anthony sal hy waarskynlik vir minstens agt maande nie kan werk nie.
“Ek moet mobiel wees om my werk te doen en na verskillende terreine te ry. Ek weet nie wat die toekoms inhou of wat die situasie met my werk gaan wees nie. Al vier van ons wat in die ongeluk was, het saam gewerk.”
Fokus op herstel
Anthony is nou terug by die huis waar hy daarop fokus om so gou moontlik te herstel en weer vir sy gesin te kan sorg.
“Ek wens net die ongeluk het nooit gebeur nie. Dan sou nie een van my vriende gesterf het nie, en my ander vriende sou nie so ernstig beseer gewees het nie,” sê hy.
Ondersteun Anthony Coetzee se herstelpad via sy BackaBuddy.




