Local News

Kranse gelê by Nirvana konsentrasiekampkerkhof

’n Stil byeenkoms het gemeenskapslede en leerders bymekaar gebring om oor ’n pynlike hoofstuk in die geskiedenis te besin.

POLOKWANE – Die tragiese geskiedenis van manne, vroue en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) in konsentrasiekampe die lewe gelaat het, is verlede Sondagmiddag weer in herinnering geroep toe die Voortrekkers, organisasies en leerders van skole kranse tydens ‘n geleentheid in die konsentrasiekampkerkhof in Nirvana gelê het.

Die verrigtinge is geopen met ‘n verwelkoming deur voortrekkerkommandoleier Anton Botha en skriflesing en ‘n kort woord en gebed deur ds. Hannes Bezuidenhout.

Vlagseremonie en toespraak

Vlagdraers van die Doornkraal Voortrekkerkommando het daarna met die vierkleure van die destydse Transvaalse en Vrystaatse boererepublieke aangetree, waarna adjunk kommandoleier Henk Lottering ‘n kort rede oor dié dag in die geskiedenis gelewer het.

Lid van die provinsiale wetgewer, adv. Franco Marx het ‘n interessante voordrag oor die ontstaan van Pietersburg gelewer en die gehoor het aandagtig geluister terwyl hy meer vertel het oor die oorsprong van die naam Polokwane, wat ‘Plek van rus’ beteken.

Rouwag en eerbetoon

Die Voortrekkers se rouwag het daarna hul plekke op die vier hoeke van die Beyers gedenknaald ingeneem en die eerbetoon aan afgestorwenes in die konsentrasiekamp het begin.

Leerders van plaaslike skole het na die grafte wat onlangs gerestoureer is, beweeg en die laaste taptoe is gespeel, gevolg deur ‘n minuut van stille eerbetoon en die blaas van die oggendsinjaal. Die kinders het daarna blomme aan die voetkante van die grafte geplaas.

Kranse en herinnering

Kranse is daarna deur lede van die Botha Skuilgat van die Agbare Orde van die Staaldakke (Moths), die Voortrekkers en leerders van skole in die stad en omgewing en ander lede van die publiek gelê.

Lede van die Botha Skuilgat van die Agbare Orde van die Staaldakke (Moths) betoon eer tydens die kranslegging.

Historiese konteks van die Anglo-Boereoorlog

Konsentrasiekampe is gedurende die Anglo-Boereoorlog deur die Britse veroweraars bedryf. ‘n Boeremag van ongeveer 65 000 het teen ‘n oormag van 200 000 Britse soldate te staan gekom en konsentrasiekampe is deur die Britte gevestig toe na hul ‘Verskroeide Aardebeleid’ oorgegaan is.

Plase is afgebrand, diere is van kant gemaak en vroue en kinders is per trein na konsentrasiekampe afgevoer.

Pietersburg konsentrasiekamp

Die konsentrasiekamp in Pietersburg het in Mei 1901 met 2 380 gevangenes tot stand gekom en is vyf maande later weer gesluit toe die oorlewende gevangenes na Colenso oorgeplaas is.

Intussen het 184 mense tydens die winter in Augustus daardie jaar hier gesterf en is in die kerkhof te ruste gelê.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Barry Viljoen

Barry Viljoen is a freelance journalist for Polokwane Observer.

Related Articles

Back to top button