Local News

Polokwane-gesin se ‘Asem’-veldtog help peuter om operasie te kry

Chanelle Pretorius het oorweeg om die gesin se motor te verkoop, voordat die gemeenskap ingespring en genoeg fondse vir Issie se operasie ingesamel het.

POLOKWANE – “Ek wonder of Oom Dokter vir my ‘n sweetie gaan gee as ek mooi soet is?”

Só wonder die 19-maande-oue Issie Pretorius waarskynlik ‘n paar dae voordat sy ‘n broodnodige, lankverwagte operasie moet ondergaan.

Issie is met vergrote adenoïede gediagnoseer, wat dit vir haar moeilik maak om behoorlik asem te haal en dus ook om te slaap.

‘n Snaakse geluid wat nie wil weggaan nie

Haar ma, Chanelle, vertel dat Issie ongeveer drie weke oud was toe haar asemhaling vir haar ouers begin snaaks klink het.

“Ons het haar dokter toe geneem, maar daar is vir ons gesê dit is normaal en klink net vreeslik, aangesien babas se respiratoriese stelsels so klein is.

“Ek het egter geweet iets is nie reg nie. Ons het haar na ‘n plaaslike dokter geneem wat haar met ‘n oorinfeksie gediagnoseer het. Die dokter het toe reeds vir ons gesê Issie se adenoïede is die probleem.”

Spesialis bevestig die vermoede

Nadat Issie egter keer op keer weer met infeksies gediagnoseer is en antibiotika moes kry, het die geneesheer die Pretoriusgesin na ‘n spesialis verwys.

“Soos ek dit verstaan, blokkeer die adenoïede Issie se eustachiese buis. Dit is die buis wat jou middeloor met jou keel verbind. Dit verhoed dan dat die ore mooi dreineer en al die vog gaan lê onder haar oordromme. Dit blok ook haar lugweg en veroorsaak dat sy konstant deur haar mond asemhaal. Die adenoïede veroorsaak verkouesimptome.”

Issie is Chanelle en haar man, Pieter, se eerste kind, en Chanelle vertel hoe sy al saam met Issie gesit het terwyl sy koorsstuipe gekry het, in haar arms gelê en geskree het van oorpyn terwyl sy van die koors geruk het.

“Dit was aaklig. Ek kan nie tel hoeveel trane ons al saam met haar gehuil het nie. Ons het heeltyd gehoop sy sal daaruit uitgroei.

“Ons was onder die indruk dat die spesialis nie die operasie sal doen voordat sy drie jaar oud is nie. Ons het gehoop as ons net deurdruk en uithou, dinge sal beter raak.”

‘n Nuwe infeksie verander alles

Issie het egter in Julie vir die eerste keer mangelonsteking gekry en weerstand teen die antibiotika opgebou.

“Dit was vir ons ‘n aanduiding om op te tree. Ons het met al ons dokumentasie na die spesialis toe gepiekel en gedink dit gaan ‘n geveg afgee om hom te kry om in te stem tot die operasie.

“Toe hy vir Issie ondersoek, het hy dadelik gesê sy gaan ‘n operasie kry en sommer ook grommets kry.”

Gemeenskap spring in om te help

Nadat Chanelle en Pieter dié nuus gekry het, het hulle besluit om ‘Asem’ vir Issie te stig, ‘n projek om geld in te samel om vir die operasie te betaal.

“Ons het oorweeg om ons motor te verkoop, maar met hulp van die gemeenskap kon ons genoeg geld kry. Ek wou egter nie bakhand staan en bedel nie en het beplan om pannekoek en hamburgers te verkoop.”

Enige ma is bekommerd oor haar kind, en Chanelle sê haar grootste bekommernis is dat Issie eendag koors gaan kry en hulle dit nie betyds gesond gaan kry nie, as gevolg van die weerstand wat Issie teen die antibiotika opgebou het.

“Ons is ook nog bekommerd dat Issie net eendag gaan ophou asemhaal. Ek weet dit is drasties, maar ek is ‘n ma. Ek het my kind al in die ergste situasies gesien. Ek sal my altyd oor die ergste bekommer. As ek nie daaroor bekommerd is nie, gaan ek nie stappe kan neem om dit te keer nie.”

Slapelose nagte word die norm

Issie Pretorius (19 maande) by haar kleuterskool.

Issie se bababed is direk teenaan Chanelle se bed, en deesdae slaap sy sommer saam met haar ouers in die bed.

“Ek is ongelooflik angstig oor haar asemhaling. Ek kan nie slaap as my kind nie in dieselfde kamer as ek is nie. Dit klink asof iemand bome afsaag in ons kamer. Sy is konstant op om water te drink en gaan soms deur soveel as drie bottels water ‘n nag.

“Ek dink sy word moeg wakker. Ek let op dat Issie sakke onder haar oë begin vorm, al sal sommige mense sê ek oordryf. Ek weet sy drink baie en sukkel vreeslik om by die skool aan die slaap te raak.”

Issie is verlede Woensdag geopereer, en Chanelle sê die dokter is tevrede met haar herstel.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button