Twee PHS-rugbyspanne na Noordvaaleindstryd
Die span kom teen die span van Hoërskool Die Anker te staan in die eindstryd Saterdag.
POLOKWANE – PHS se o/14A-rugbyspan het Hoër Volkskool Potchefstroom Saterdag 20-11 getroef om vir die eindstryd in die Noordvaalliga te kwalifiseer.
Volkies het aanvanklik hul man gestaan en die telbord met ‘n drie geopen, maar dit was nie lank daarna nie dat PHS se Juan Dreyer op die lyn gaan kuier het na ‘n goeie aangee van Zander Deysel.

Dié voorsprong het net nog momentum aan die PHS-bulle se spel besorg, met Regan Els en Hanno Kotze wat drieë vir hul span aangeteken het.
Phillip du Plessis, die afrigter sê hulle was verheug oor die wen, en sien uit na die eindstryd van die Noordvaal liga.

“Ons is baie bly om uiteindelik vir dié einstryd te kon kwalifiseer. Ons is redelik onderskat, en alle eer gaan aan die spelers wat met soveel passie en uithou gespeel het. Hulle het hulle harte op die veld gelos en vir ons ‘n wen verseker. Ons is baie trots op hulle.”
Die span kom teen die span van Hoërskool Die Anker te staan in die eindstryd Saterdag.

Die o/15A’s het Saterdag ook hulle halfeindstryd teen Die Anker gewen met ‘n telling van 19-3, en sal dus ook in die eindstryd hierdie naweek uitdraf – hulle opponente sal die manne van Hoërskool Wesvalia wees.




