PHS-krieketspelers ‘Smash’ deur in Plaatfinaal
HS haal egter die kwartfinaal vir die toernooi en speel hier teen Hoër Tegniese Skool Middelburg, maar verloor met ses paaltjies en speel uit vir die Plaattrofee.
POLOKWANE – Hoërskool Pietersburg se eersteseunskrieketspan het vanaf 7-11 Januarie in Bloemfontein aan die Kovsies T20 Smash-toernooi deelgeneem waarin hulle altesaam ses wedstryde gespeel het.
Op dag een speel die span teen Hoërskool Witteberg en wen met ses paaltjies na hulle die teenstaanders vir 44 lopies uithaal. Stephan Swanepoel word as speler van die wedstryd aangekondig.
Later die middag het die seuns teen Trio te staan gekom, maar kort voor PHS se kolfbeurt, pootjie reën die wedstryd. PHS het steeds daarin geslag om Hoërskool Trio uit te haal vir 106 waartydens Hanno van Zyl ‘n driekuns behaal en ‘n totaal van vyf paaltjies geneem het.
Hierdie toernooi bied uitstekende voorbereiding vir die opkomende Finsburyreeks en die Limpopo T20-liga.
Op dag twee speel die span teen Hoërskool Kalahari en verloor met 20 lopies.
PHS haal egter die kwartfinaal vir die toernooi en speel hier teen Hoër Tegniese Skool Middelburg, maar verloor met ses paaltjies en speel uit vir die Plaattrofee.
Dag drie skop af met ‘n wedstryd teen Despatch waar PHS 171 lopies in 20 beurte aanteken.
Dian Gouws spog met 63 lopies en Phillip Weterman met 49. PHS knikker Despatch uit vir 107 en wen die wedstryd met 64 lopies.
Op dag vier speel PHS en Hoërskool Kalahari in die Plaatfinaal.
PHS word eerste ingestuur om te kolf. Die nat veld en krieketbal bemoeilik spel, maar die seuns was gemotiveerd om hul foute van die groepwedstryde reg te maak en die Plaattroffee terug te bring Polokwane toe.
PHS begin die wedstryd baie goed met Weterman en Nicolas Oerlemans wat die openingswerk doen saam met Celliers van der Merwe, Hanru Marais en Juan Rademeyer wat die beurt goed afsluit.
PHS eindig op 108/8 op ‘n nat blad en buiteveld.
Kalahari word ingestuur en dit neem Oerlemans slegs vyf balle in die tweede beurt om die gevaarkolwer SW van Heerden se paaltjie te neem. Die res is geskiedenis met Oerlemans wat twee paaltjies neem, Rademeyer drie en Stephan Swanepoel drie.
PHS wen die wedstryd en die Plaatfinaal met 60 lopies.
Die span se eerste wedstryd vanjaar word op 20 Januarie teen Hoërskool Marais Viljoen gespeel.




