Pieties ‘aggies’ vind hul plek
Die gr. 8-TellyTubbies van PHS is vandeesweek in groepe opgedeel en elke groep het die kans gehad om by die verskillende aktiwiteitstasies verby te gaan.
POLOKWANE – Om in gr. 8 te wees mag dalk ‘n groot voorreg wees, maar is beslis nie altyd maklik nie.
Daar is ‘n nuwe skool met nuwe reëls, nuwe vriende en nuwe onderwysers. Vir baie leerders is hierdie oorgang van laerskool na hoërskool ‘n vreesaanjaende tyd en noem jy die woord ‘ontgroening’, sak die moed vinnig in hulle skoene.
By Hoërskool Pietersburg probeer die personeel en Pietie-raad om die nuwe gr. 8-leerders so gou as moontlik op hulle gemak te laat voel. Waar die oudtydse ontgroening die jonger kinders verneder het, maak PHS van die tyd gebruik om die leerders te motiveer en meer van die vele tradisies van die skool te leer.
Die gr. 8-TellyTubbies van PHS is vandeesweek in groepe opgedeel en elke groep het die kans gehad om by die verskillende aktiwiteitstasies verby te gaan en aan die aktiwiteite deel te neem.

Daar was blinddoek, padlei, boeresport en vlugbal. Elke groep is voorgestel aan die snoepie se reëls, en hoe dinge verloop tydens saalopening. Met die geesvangaktiwiteit het hulle die skoollied en die skool se verskillende krete geleer en in die gr. 8-blok kon hulle mekaar leer ken. Aangesien die matriekblok verbode vir enige ander leerder is, moes die gr. 8’s spesiaal aandag gee oor die reëls rondom dié area.
Om die skool vinnig te leer ken, en dit wat hulle geleer het vas te lê, het die leerders PHS 30 Seconds gespeel.




