Schools

Donker dag by PHS

Pieter Muller en Anneke van der Merwe, wat albei leerders by Hoërskool Pietersburg was, is verlede week oorlede.

POLOKWANE – Dis ‘n donker week vir die families en vriende van twee leerders van die Hoërskool Pietersburg vandeesweek, na die skielike afsterwe van Anneke van der Merwe (15) en Pieter Miller (14) in afsonderlike gevalle dié naweek.

Wat verlede jaar begin het as ‘n klein moesie op Anneke se been, het vir haar dogter in ‘n kankerdiagnose geëindig, vertel haar ma, Marijke.

“Die moesie het net bly groei, en gereeld gebloei. Ons het haar dokter toe geneem om die moesie sommer in die spreekkamer te laat uitsny. Na dit weggestuur is, het die toetsuitslae gewys dis is melanoomkanker.”

Anneke het in September en November operasies ondergaan om die kankerselle te verwyder en te voorkom dat dit verder versprei. In Januarie is sy terug dokter toe waar sy vir CT-skandering gestuur is.

“Ongelukkig was die uitslae nie goeie nuus nie. Sy het reeds kankerkliere in haar been gehad, en ‘n gewas in haar buik sowel as in haar brein. Sy het gereeld gekla van erge hoofpyn, en was dikwels baie moeg.”

Anneke, ‘n gr. 10-leerder, is Vrydag soos gewoonlik skool toe, vertel Marijke.

“Ek het haar die middag by die skool gaan haal en sy was steeds die borrelende Anneke wat ons geken het. Sy het die middag by haar sussie wat so ‘n blok van ons af bly, gaan kuier. Maar laatmiddag het sy by die huis gekom en gesê sy het die gebruik van haar linkervoet verloor. ‘n Paar sekondes later was haar hele linkerkant verlam.”

Hulle moet haar dra oral waar sy wou wees, en sy het hoofpyn gehad, hulle is Vrydagaand met haar na ‘n privaat hospitaal in die stad waar sy opgeneem is.

“Ons is Saterdagoggend hospitaal toe met die hoop dat ons ‘n dogter gaan sien wat regop sit, lag en gesels, maar sy het opgekrul in ‘n bondeltjie gelê met haar oë toe en gebewe van die hoofpyne. Hulle wou haar stuur vir ‘n breinskandering.”

Haar familie het gewag, terwyl sy vir ‘n breinskandering moes gaan.

“Skielik het hulle laat weet ons moet kom, Anneke se liggaam kon nie meer nie. Sy het in ‘n koma ingegaan. Sy is oorlede nadat sy bloeding op die brein gekry het.”

Marijke sê Anneke was ‘n besonderse kind. “Sy het altyd die reguit pad gelewe. Sy was ‘n lojale vriendin en het vas geglo in wat reg en verkeerd is. Sy was baie lief vir diere en kinders. Sy was saggeaard, liefdevol en baie behulpsaam. Sy wou almal net help waar sy kon. ‘n Beter vriendin, sussie en dogter kon mense nie voor gevra het nie.”

PHS se gr. 10-graadhoof, Illze Malan, het die nuus oor Anneke se afsterwe Saterdag aanlyn gedeel:

“Met ‘n stukkende hart deel ek dat Anneke vanoggend haar stryd teen kanker verloor het. My sonskyn-kind, jy het toe vinniger jou vlerke gekry as waarvoor ons reg was. Mag jy vrede en rus vind. Jou gees was vreesloos. Jy bly vir altyd my Lutie, my hart soek dringend na jou sagte glimlag. My innige simpatie aan jou mamma en familie wat hierdie reuse verlies moet beleef. Anneke, laat jou liggie helder skyn.”

Haar roudiens word Donderdag, 8 Februarie om 11:00 by Taberna Dei Ooskampus in Bekkerstraat gehou.

PHS het ‘n dag later die nuus bekendgemaak van Pieter Miller, ‘n gr. 8-leerder se afsterwe, met dié boodskap: ‘Ons Pietie-harte is stukkend oor die skielike afsterwe van nog een van ons leerders. Pieter Miller in gr. 8 is vandag oorlede in ‘n motorongeluk.

Pieter was ‘n hardwerkende en saggeaarde seun. Hy was trots op sy vorige skool, Pietersburg Laerskool en ook opgewonde om deel te wees van sy nuwe skool. Hy het, waar daar geleenthede was om deel te neem, sy beste gegee. Hy sal onthou word vir sy mooi glimlag en lojaliteit.

Ons innige meegevoel aan sy ma, boetie en almal wat naby hom was. Mag God jul toevou in Sy groot genade en liefde.’

PHS se skoolhoof, Adolf Ellis beskryf dit as hartseer om vir ‘n tweede keer in ‘n week afskeid te neem van ‘n Pietie.

“Baie sterkte aan almal met die verwerking van hierdie hartseer. Ons harte gaan uit na almal wat vir Pieter lief en dierbaar was, mag ons Liewe Vader hier almal die nodige vertroosting en ondersteuning gee in die verwerking van hierdie hartseer. Ons glo en weet dat Onse Here ons almal styf sal vashou. Rus in vrede Pieter, jou plekkie gaan nou leeg wees hier by PHS.”

‘n Onderwyser van Pietersburg Laerskool, waar Pieter tot verlede jaar was, Charlotte van den Berg sê Pieter het gereeld met haar gesels. “Hy was altyd vriendelik met ‘n sagte gees. Ek bid vir sy geliefdes.”

Tenpin on Grimm het inwoners intussen op sosiale media uitgenooi om ter ere aan Pieter op Woensdag, 7 Februarie te kom kegelbal speel.

Sy gesin kon nie teen druktyd bereik word nie, en sy begrafnisreëlings sal na verwagting Woensdag aanlyn beskikbaar wees.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button