Tommies se Tiaan droom van Europa-wenstreep
Tiaan Haasbroek is gekies om aan verskeie internasionale atletiekbyeenkomste deel te neem, insluitend die Göteborg Youth Games – die grootste jaarlikse baan-en-veldbyeenkoms in Skandinawië.
POLOKWANE – Met elke wedloop is ‘n atleet se fokus op die wenstreep – sy asemhaling, pas en strategie staan sentraal.
Daar is dalk vir ‘n oomblik ‘n flitsgedagte dat talentsoekers teenwoordig mag wees, maar dit verdwyn vinnig soos die volgende hekkie naderkom.
Tiaan Haasbroek, ‘n 17-jarige leerder van Hoërskool Tom Naudé, het van 2 tot 5 April aan die Suid-Afrikaanse Skole Atletiek- en LSEN Hoërskool Nasionale Kampioenskappe in Bloemfontein deelgeneem.
Hier het hy silwer verower in die 400 meter hekkies vir seuns o/17.
Minder as ‘n maand later is Tiaan verras met nuus dat hy gekies is om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig deur World Wide Scholarships (WWS).
“Ek het glad nie aansoek gedoen nie, so dit was baie onverwags, maar ek is ongelooflik opgewonde. Ek dink die verteenwoordigers het my by die SA’s raakgesien,” het hy vertel.
Tiaan is gekies om aan verskeie internasionale atletiekbyeenkomste deel te neem, insluitend die Göteborg Youth Games – die grootste jaarlikse baan-en-veldbyeenkoms in Skandinawië met meer as 8 000 deelnemers.
Hy beoog ook om aan die Bauhaus Galan Youth and Masters by die historiese Stockholm Olimpiese Stadion deel te neem, asook verskeie ander kompetisies gedurende die drie weke wat hy in Europa gaan wees.
Die span vertrek op 24 Junie na Swede en sal op 21 Julie terugkeer na Suid-Afrika.
“Ek is ‘n bietjie gespanne, want ek moet alleen reis,” erken Tiaan.
“Maar ek sien baie uit, dit gaan beslis ‘n belewenis wees en ek glo ek gaan baie leer.”
Tiaan se atletiekloopbaan het reeds op laerskool begin, toe hy in gr. 3 aan Oosskool se Sjokoladebyeenkoms deelgeneem het
. Sedertdien het hy hom toegewy aan die hekkies en spesialiseer nou in die 400m en 110m hekkies.
By ‘n P1-byeenkoms by Hoërskool Pietersburg het hy reeds in sy vroeë hoërskooljare ‘n rekord opgestel in die 80m hekkies.
Hoërskool Tom Naudé is trots op hul uitblinker-atleet. Skoolhoof Vanessa Kagelhoffer beskryf Tiaan as ‘n passievolle sportman wat die skool se waardes van harde werk, deursettingsvermoë en sportmangees beliggaam.
“Om hierdie ongelooflike geleentheid aan te gryp, het Tiaan finansiële bystand nodig. Reis, verblyf, registrasiefooie en ander koste beloop R130 000,” sê sy.
“Ons glo enige borgskap is nie net ‘n belegging in Tiaan se toekoms nie, maar ook in die ontwikkeling van plaaslike sporttalent. As skool is ons bereid om enige borg erkenning te gee via mediablootstelling, promosiegeleenthede en sosiale media.”
Tiaan sê die hoë koste is ook die rede waarom sy ouers hom nie na Europa kan vergesel nie. Die gesin is tans besig met fondsinsamelingspogings.
Enigiemand wat Tiaan se droom wil help verwesenlik, kan sy pa, Nardus, kontak by 061?583?0461 of per e-pos by nardus.castlehill@gmail.com.




