Oosskool se buitesenter skryf sy naam in rekordboeke
Phetolo Mokwena het in die 2025-rugbyseisoen meer as 50 drieë in 20 wedstryde vir Oosskool se eerste rugbyspan aangeteken.
POLOKWANE – Die rugbywêreld kan gerus begin uitkyk vir Oosskool se eie Phetolo Mokwena.

Dié merkwaardige jong speler, met sy perfekte Afrikaans en afgeronde maniere, het in die 2025-rugbyseisoen meer as 50 drieë in 20 wedstryde vir dié skool se eerste rugbyspan aangeteken.
Phetolo, wat sedert gr. R rugby speel, is vanjaar Oosskool se onderhoofseun, en sê die rugbyveld is sy uitlaatklep.

Hy dra die nommer 13-trui en speel buitesenter. “Na afloop van Cravenweek het ek altesaam 61 drieë gedruk. Ek het hard gewerk om geskiedenis te maak vir Oosskool, voor ek volgende jaar hoërskool toe gaan,” vertel hy.
Sy sporttalent was reeds van vroeg af duidelik:
In gr. 1 het hy ‘n 27-jaar-oue atletiekrekord gebreek toe hy die 60m in 9.78 sekondes voltooi het tydens die P1-byeenkoms op 24 Januarie 2019 by die Peter Mokaba-stadion.
Daarna het hy verskeie ander rekords opgestel. Al moet hy lank dink oor sy voorkeur tussen rugby en atletiek, kies hy uiteindelik rugby. “’n Mens kan verder kom met rugby, en atletiek help my op die veld.”

Hy sê hy hou van die kompetisie teen skole soos Laerskool Pietersburg en Laerskool Bosveld in Lephalale.
Hy loof ook sy spanmaats vir hul ondersteuning, veral sy sentermaat, Marius Smit.
“Hy maak die meeste van my drieë moontlik. Ek probeer altyd nederig bly – ek draf terug na my span toe wanneer ek ‘n drie druk.”
Sy afrigter, Johan Bekker, sê Phetolo is ‘n seun met ‘n besondere talent.
“Daar is geen plaasvervanger vir spoed nie, en Phetolo het dit bewys. Hy het die vermoë om geleenthede te skep uit niks. Ons is ongelooflik trots op hom. Mag jy God se naam verheerlik deur jou werk en gesindheid.” Phetolo se droom is om eendag vir die Springbokke uit te draf. “Ek kyk op na Cheslin Kolbe. Hy wys dat harde werk sukses bring.”

Hy lag as hy terugdink aan ’n snaakse oomblik tydens ’n Dicovery Camp Super 12 semi-finaal teen Rustenburg: “Ek het geduik vir ’n drie en toe ek opstaan, besef ek my broek het agtergebly! Gelukkig het ek darem ’n spanbroek ook aangehad.”
Sy ma, Thatohatsi Mokwena, is ongelooflik trots op haar seun, wat volgende jaar by Affies gaan aansluit.
“Toe hy sy 52ste drie druk, het my hart gestraal. Ek is dankbaar vir elke spanmaat, afrigter en ouer wat hom ondersteun het. Mag die Here hom beskerm en seën.”
Phetolo se raad aan ander seuns? “Bly nederig. Werk hard. Goeie waardes bepaal 90% van jou sukses.




