Osies maak ‘n verskil by kankereenheid
In gr. 7 kry twee leerders per klas die geleentheid om saam met 'n jonger graad, gemeenskapswerk te doen en sodoende hul waardes in praktyk uit te leef.
POLOKWANE – By Oosskool word lewenswaardes soos deursettingsvermoë, hulpvaardigheid, verantwoordelikheid en integriteit nie net geleer nie, maar uitgeleef.
Hierdie waardes vorm ‘n integrale deel van elke leerder se opvoeding en berei hulle voor om as betrokke en empatiese burgers die wêreld te betree.
In gr. 7 kry twee leerders per klas die geleentheid om saam met ‘n jonger graad, gemeenskapswerk te doen en sodoende hul waardes in praktyk uit te leef.
Die Mnr. en Mej. Oosskool-projek is geensins ‘n skoonheidskompetisie nie, maar eerder ‘n inisiatief waar leerders die kans kry om werklik ‘n verskil in ander se lewens te maak.
Lumé Heinlein en William Robinson, finaliste uit hul klas, is saam met die gr. 1-groep aangewys om die Tough Living with Cancer (TLC)-saal by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal te ondersteun.

Die Osies het verlede week kolwyntjies gebak wat die pasiënte self kon versier, en Lumé en William het die oggend saam met die kinders deurgebring.

Daar is ook handgemaakte items soos musse, serpe, ponchos en komberse uitgedeel – alles gebrei deur die Grannies That Care van Ons Tuiste en Knit with HIS Grace van Pretoria. Die finaliste help tans met wolinsameling sodat die breiprojek kan voortgaan.
Carin Meintjes van Ons Tuiste sê die tannies geniet dit om betrokke te wees, en waardeer die geleentheid om steeds ‘n bydrae tot die gemeenskap te kan lewer.
William vertel: “Vir my was dit die beste gevoel om te weet dat ek, al is dit op ‘n klein manier, ‘n verskil kon maak. Deur iets te doen, deur net te wys ons gee om het dit ‘n verskil geaak.”
Lumé stem saam: “Dit was vir my ‘n mooi ervaring, maar ook hartseer om al die siek kinders te sien,” het sy afgesluit.




