Opinion

Wanneer mens maar op jou tong moet byt

Om op ‘n ongeleë plek aan die giggel te gaan is nooit ‘n gemaklike besigheid nie, maar wanneer jy pasgetroud is en dis jou man se ouma se begrafnis, kan so ‘n gelag jou in die sop laat beland en moet jy maar op jou tong byt. Ons was maar drie maande getroud toe ons …

Om op ‘n ongeleë plek aan die giggel te gaan is nooit ‘n gemaklike besigheid nie, maar wanneer jy pasgetroud is en dis jou man se ouma se begrafnis, kan so ‘n gelag jou in die sop laat beland en moet jy maar op jou tong byt.

Ons was maar drie maande getroud toe ons vir Ouma totsiens moes sê. By die kerk het die begrafnisondernemer, pluiskeil en al, voor die kerk vir ons gewag en ‘n sombere toespraak afgesteek. Terwyl hy nog praat, kom ‘n werker met die nuus: die graf is nog nie gegrawe nie. ‘n Paar warm oproepe het verseker dat die grafgrawers blitsvinnig ingespring het. Na die diens kom ons by die begraafplaas, net om te sien die graf is effens aan die vlak kant. Ons moes maar aangaan met die seremonie en vir arme Ouma later dieper bêre.

Langs die nuwe graf het drie werkers gestaan en hyg asof hulle die Comrades gehardloop het.

Gansbaai se begraafplaas is op ‘n prima stukkie grond, reg langs die see geleë met die lieflikste sandgrond in die geweste. Iemand kry die idee dat jong vroulief na arme Oupa moet kyk en stop ‘n opslaanstoel in my hand.

Niemand dink daaraan om vir hierdie Valie te sê dat sand gevaarlik bedrieglik kan wees nie. Oupa het dankbaar gaan sit op sy stoel, net om reg agteroor te slaan omdat die stoel in die ongelyke sand weggesak het. Met vuil kyke in my rigting het die familie van ver vir Oupa opgetel en weer sitgemaak.

Die wraak van die versteurde sand was nog nie op ‘n einde nie. Die groen mat om die graf het die los sand op die graf se rand versteek en toe hierdie Vaalpens met ‘n handjievol blomblare nadertree, gee die sand onder my voete mee.

Slegs die dapper spanpoging van my man en skoonpa het my daardie dag uit die graf gehou. Ek kon my net die skinderpraatjies voorstel: “Die arme vrou was so ontsteld, sy het haar in die graf gewerp…”

Ek het ook vir die eerste keer met graf-paparazzi te doen gekry. ‘n Niggie het soos ‘n wafferse National Geographic-fotograaf rondgedartel.

Die oomblik wat ek haar op haar maag agter ‘n grafsteen gewaar het, het die damwal gebars. Tot vandag is ek die enigste mens wat ek ken, wat op ‘n begrafnisfoto oopbek staan en lag.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button