‘n Kant van die evangelie wat ons nie graag wil hoor nie
Gelukkig is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel
Gelukkig is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel (Matteus 5:3). Gelukkig is die mense wat weet hoe nodig hulle God het, sê die Nuwe Lewende vertaling.
So sê Jesus vir mense wat na sy preek op die berg luister. Die mense wat voor Hom sit is op alle lewensterreine arm. Hulle is misbruik en uitgebuit deur die stelsel. Hulle kon nie op die markplein kom nie en kon dus nie koop of verkoop nie. Hulle is die tempel verbied en hulle stemme is nie gehoor nie.
Hulle was die skuim van die Romeinse ryk, die bodemvlak van die samelewing. Hulle was uitgelewer aan die genade van ander, weerloos, broos en magteloos. Mense wat, as gevolg van hulle omstandighede, net na God kan kyk vir alles. Totaal afhanklike mense.
Vir hulle sê Jesus: Gelukkig is jy as jy so laag is, dat jy net kan opkyk. Gelukkig is jy as jou gees gebreek is en jy weet hoe nodig jy God in jou lewe het. Gelukkig is jy as jy jou afhanklikheid van God besef. Jy is nommer een in Jesus se nuwe ryk en deel van God se nuwe wêreld.
Ons voel ongemaklik met Jesus se woorde omdat dit ons konfronteer met ‘n kant van die evangelie waaroor ons min praat en wat ons nie graag wil hoor nie.
Wat Jesus hier sê bots kop-aan-kop met ons Westerse waardes waar onafhanklikheid, rykdom, mag, sukses en status ons waarde as mense bepaal. Ons hou nie van wat Jesus sê nie! Hiermee sê Jesus dat navolging van hom nie net ‘n koersaanpassing vra nie, maar ‘n bekering. Dit is nie ‘n paar grade links of regs nie – dit is 180° omkeer.
In sy boek Free to Believe, skryf Michael Gallagher dat geloof in God eers moontlik raak as God jou help ontsnap uit die tronk van jou droom om onafhanklik te wees.
Om geluk in onafhanklikheid te soek is om kaviaar en sjampanje in ‘n asdrom te soek.
Onafhanklikheid is ‘n seepbel. Dit lyk skitterblink en mooi. Jy strek jou uit om dit te gryp, dan bars dit en is daar niks nie. Jesus sê dat geluk aanbreek as ons by daardie plek in ons lewens kom waar hierdie seepbel in ons hande bars en ons met leë hande afhanklik voor God staan.
Gelukkig is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel (Matteus 5:3).
