Opinion

VAT VYF: Die geestelike reis van die Christen is altyd een van groei

"Jy kan nie 'n ou hond nuwe toertjies leer nie,"

“Jy kan nie ‘n ou hond nuwe toertjies leer nie,” dink ek, terwyl ek na die jong meisie voor my kyk.

Ek en my vriend, Cedrick, het gekom vir perdrylesse by Sarita se ryskool.

Ek het stilletjies by myself gewonder: Wat kan die jongeling my nou eintlik vertel van perdry? Ek het tog as jong seun baie perdgery op my oupa se plaas.

Ek neem tog eintlik maar lesse ter wille van Cedrick, net sodat hy nie moet sleg voel oor ek soveel verder “gevorder” is as hy nie.

Ek kyk met stille ontsag na die meisie voor my. Terwyl ander jong dames van haar portuur in skoonheidsalonne sit en ‘manicure’, is sy besig om jong perde in te breek, stalle skoon te maak en haar perde voer te gee.

Sarita se opdragte is vriendelik, dog ferm: “Sit jou voet hier in. Hou die teuels so vas. Maak so as jy wil draai en maak sus as jy wil stop.”

Terwyl ek my linkervoet in die stiebeul plaas om op die perd te klim, moes ek wonder hoe wyle Genl. De la Rey op sy gevorderde ouderom nog so gemaklik in ‘n saal kon spring. Tot my verbasing het ek gevind dat ek nie my regterbeen oor die saal kon kry nie!

Gelukkig het Cedrick met ‘n stewige hupstoot op my agterstewe gehelp dat ek op die perd te kom. Cedric, wat ‘n paar jaar my senior is, het egter sy perd gemaklik bestyg sonder enige hulp! Dit het my selfbeeld ‘n kwaai knou gegee.

Toe ek uiteindelik op die perd se rug is, het die grond vir my skielik so ver gelyk. Ek kon nie onthou dat dit so was toe ek ‘n jong seun was nie. Hoekom het ek skielik so bang en onhandig gevoel?

Uiteindelik was die les verby. Dit was baie leersaam. Ek het ontdek dat baie wat ek van perdry geleer het eintlik verkeerd was en ek moes erken: Jy kan inderdaad ‘n ou hond nuwe toertjies leer.

Dit laat my dink aan die woorde van Paulus: “Nie dat ek dit al bereik het nie, maar ek jaag daarna…”. Op geestelike gebied “arriveer” ons nooit nie. Ons moet altyd nederig en leerbaar bly. Hy wat dink dat hy staan moet oppas dat hy nie val nie en as jy val moet jy weet die grond is ver ondertoe!

Toe ons terugstap van die stalle af na ons motor toe hou ek my pose en probeer normaal loop. Ek wou mos nie hê Cedrick moet agterkom hoe styf en seer ek werklik is nie.

www.dsgielie.net

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button