VAT VYF: Wat gaan teen middernag gebeur en hoe gaan mense optree?
Dit is die besigste tyd van die jaar in Mosselbaai.
Dit is die besigste tyd van die jaar in Mosselbaai.
Ons en ‘n paar vriende is die aand by ‘n straatmark in die hoofstraat. Mense krioel soos miere…
Die lang arm van die gereg hou toesig: “Meneer dit gaan nou nog goed want dit is vroeg in die aand. Vanaand twaalfuur sal dit anders lyk…” sê ‘n konstabel veelbetekenend…
Rondom my is ‘n see van gesigte. Almal geniet die perfekte weer; lag en gesels en verkyk hulle aan die stalletjies. ‘n Pa dra ‘n klein dogtertjie op sy nek wat sit en roomys eet dat dit taai oor haar gesiggie loop.
Ander eet heerlike gekookte groenmielies aan ‘n stokkie bedek met vars botter. Daar is ‘n “Punjap stalletjie” met sterk kerrie deur Indiërs beman. Die reuk trek my soos ‘n magneet…
Die sogenaamde “brush painting” waar tydelike tatoërings op mense aangebring word, word oorval deur kinders. Geld is blykbaar nie ‘n kwessie nie en die rande rol in…
Eenkant staan ‘n groot kring mense rondom ‘n Boliviaanse danser wat met sy rooi-Indianse hooftooisel van arendvere allerhande passies maak en liedjies sing. Hy vra R10 om saam met jou vir ‘n foto te poseer…
Ek hou die gesigte rondom my dop. Dit is duidelik dat God van verskeidenheid hou! Elke mens se gesig is uniek. Daar is nie net verskeie rasse nie, maar binne elke ras het elke mens ook unieke gelaatstrekke. En elkeen het ‘n unieke stem. Tussen die skare kan een kind uitroep “mama” en sy sal dadelik sy stem erken tussen honderde ander.
Jesus het ook lank gelede so in ‘n straatmark in Jerusalem geloop. Hy was altyd daar “where the rubber meets the road”; tussen mense, bewus van elkeen se nood en behoefte. Elkeen was vir hom uniek en kosbaar…
Tussen die gelag, gesels, geëet en gekoop is daar vanaand ook baie hartseer wat niemand van weet nie… Eenkant staan ‘n bejaarde vrou en pink ‘n traan af; ooglopend hartseer… Jesus sou iets vir haar te sê gehad het; haar dadelik raakgesien het tussen die mense. Dit was Sy styl…
Dit is ongeveer 21:00 toe ons terugstap na ons motor toe. Ek wonder wat teen middernag gaan gebeur en hoe almal hulle dan gaan gedra… Salomo het gese: “Wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?” (Pred 2:25)
Mag die konstabel hierdie jaar verkeerd wees… (www.dsgielie.net)
