As jy geld gehad het om rond te gooi, waarop sou jy dit uitgee?
In die huidige ekonomie is dit meeste mense nie beskore om geld te spaar elke maand nie, wat nog te sê spandabelrig raak.
POLOKWANE – In die huidige ekonomie is dit meeste mense nie beskore om geld te spaar elke maand nie, wat nog te sê spandabelrig raak.
Review het by ‘n paar inwoners gaan hoor wat hulle in die onsekere tye as “geldmors” bestempel.
Maureen Louw voel geldmors is “wanneer jy jou welverdiende geld op onnodige goed spandeer”.
“So sal ek nooit my geld op duur skoene en klere uitgee nie. As ek egter geld gehad het om uit te gee, sou ek beslis op ‘n vakansie gegaan het. ‘n Oorsese vakansie, nie net ‘n gewone Suid-Afrikaanse vakansie nie.”
Rebecca Mabotja meen dit is geldmors om produkte soos lekkergoed, sjokolade en tjips te koop. Sy sê sy sal ook nie haar geld uitgee op weelde-items wat sy nie kan bekostig nie, maar sal graag wil gaan vakansie hou as sy die geld het.
“Ek het nie eintlik ‘n definisie vir wat geldmors is nie, maar ek weet ek sal nooit my geld uitgee op items wat ek nie nodig het nie. Ek dink dit is geldmors,” vertel Precious Ben.
Adel Botha meen geldmors is wanneer jy geld op onnodige items spandeer.
“‘n Voorbeeld is as jy nie in werklikheid kan bekostig om ‘n ‘flatscreen’ televisie te koop nie, maar jy het en nou sit jy die res van die maand sonder kos.” Sy vertel ook sy sal nooit haar geld mors op iets soos die lotery nie, maar dat sy “bitter graag Mauritius toe sal wil gaan” indien sy geld gehad het wat rondlê.
Zizina Munodzana is besig om huis te bou en vertel dat sy, as sy nog geld oorgehad het, dit op boumateriaal sou spandeer.
“Ek dink om geld te mors is om iets soos duur klere te koop, dis iets wat onnodig is.”
Henda Brits dink dit is verkwisting om uitspattig te lewe.
“Ek sal nie my geld mors op weelderige items soos luukse huise en motors nie. Ek sal eerder vir my ‘n gewone motor koop as ek die geld gehad het.”
Ephraim Raphela vertel geldmors is wanneer jy items koop waarvoor jy nie beplan het nie.
Hy sal nooit sy geld onnodig op klere mors nie, sê hy, en as hy die geld gehad het, sou hy graag ‘n stuk grond wou koop.
