Praat oor selfmoord: jy is nie regtig alleen nie
Depressie, selfhaat, angs en selfmoordgedagtes is nie iets wat mense op hulle mou dra nie.
Depressie, selfhaat, angs en selfmoordgedagtes is nie iets wat mense op hulle mou dra nie. Dit is ook nie iets waaroor ons praat nie.
Dit is ‘n stil, verdraaide realiteit wat snags terwyl jy nie kan slaap nie, in die donker ure jou gedagtes oorneem. Dit is die stem wat na elke fout of mislukking, wat meeste mense afmaak vir jou vertel dat jy niks reg kan doen nie.
Die stem wat in daardie donker tye vol spyt, self-haat en skuldgevoelens vir jou vertel dat dit vir almal beter wees, makliker wees, as jy net nie meer bestaan nie.
Jy sal nie nog ‘n keer kan misluk nie, nie nog ‘n keer ‘n teleurstelling hoef te wees nie.
Tyd gaan so stadig verby dat dit seermaak en al wat in jou kop rondmaal is die stem: “Useless. Worthless.”
Sommige sielkundiges en diep denkers verwys na depressie as ‘n diep, donker spiraal wat jou van binne verswelg, ‘n sielswartgat.
Ek stem saam, maar wil byvoeg dat die donker spiraal wat in jou psige wegkruip eintlik nie net deur die self aangevoer word nie.
Ander mense se aksies en reaksies, óns aksies, óns woorde, speel ook ‘n rol.
Jammer, ek weet dit is ‘n bitter pil om te sluk.
Deur impulsief te oordeel of harde en onregverdige kommentaar te lewer oor ‘n kollega, skoolmaat of familielid se lewe en keuses, kan jy iemand se laaste bietjie lewenslus steel sonder dat jy dit besef.
Daar is mense oral om ‘n ons wat die seerste seer in hulle harte dra. Wees dus liewer altyd sag. Wees altyd liefdevol.
Jy ken nie altyd hulle storie nie, jy weet nie waarmee hulle snags worstel nie.
En as jy sukkel met depressie:
As iemand wat al gestoei het met depressie, kan ek net vir jou sê: Daar is hulp. Daar is mense wat wil luister. Daar is mense wat omgee.
Ek weet jy glo my glad nie, maar een ding is waar, die ouers van kinders wat selfmoord pleeg sit met een hartverskeurende vraag na die tyd:
“Wat was so erg dat my kind nie met my daaroor kon praat nie?”
Praat asseblief. Praat met iemand wat jy vertrou, iemand wat jou sal ernstig opneem.
Die stem in die nag is juis so sterk omdat net jy van dit weet; omdat ons nie práát nie.
Woon ‘n depressie-ondersteuningsgroep by en práát.
Jy sal verbaas wees hoe baie mense met dieselfde pro-bleme worstel.
Hulle sal nie skinder nie; hulle is in dieselfde bootjie as jy.
En in die donker nag wanneer daardie stem jou tart met useless en worthless, lag vir hom, en onthou dat ander mense jou nie net vir jou mislukkings en foute ken nie. Hoekom moet jy dan?
Kry hulp hier:
24-uur tolvrye selfmoordhulplyn: 0800 567 567
Polokwane Depressie en Angs ondersteuningsgroep: 076 878 6724
