Wanneer ons kla met die witbrood onder die arm
Daar is soveel dinge wat elke dag verkeerd loop en my sommer die josie in maak. Jy kry nie iets wat jy soek nie, die motor voor jou ry te stadig of jy voel sommer net nie lekker nie. Al die dinge maak ‘n mens elke dag negatief en laat jou wonder of daar iewers …
Daar is soveel dinge wat elke dag verkeerd loop en my sommer die josie in maak.
Jy kry nie iets wat jy soek nie, die motor voor jou ry te stadig of jy voel sommer net nie lekker nie. Al die dinge maak ‘n mens elke dag negatief en laat jou wonder of daar iewers anders ‘n planeet of sterrestelsel is waarheen jy kan gaan om net weg te kom van al jou probleme af.
Dis met dié gedagte dat ek na die winkelsentrum in my woonbuurt gegaan het om bietjie van die stres van die lewe se sukkel ontslae te raak. Ek het net weer een van daardie trollies gekry wat nie in die regte rigting wil ingaan nie en die goed wat ek koop is te duur, die ry waarin ek moet staan is te lank en die mense om my raas. Tussen die verby gaan en bemoeienis wat die inkopies my eintlik gebring het kon ek nie anders as om te begin om die ander mense om my te bekyk nie.
En dis met die rondkyk wat ek my kop in skaamte laat sak het.
Twee rye van my af, by een van die betaalpunte sit ‘n seun van omtrent so 11 jaar oud in ‘n rolstoel en speel laggend met sy ma se klere. Hy skaterlag so dat ek selfs twee rye verder, hom steeds kan hoor. Skielik dring dit tot my deur dat ek niks het om oor te kla nie. Ek staan in ‘n lang ry ja, maar ek staan. En van hier af gaan ek loop, want ek kan loop, na my motor toe wat seker warm gebak is in die son. Maar ek kan nie daaroor kla nie want ek sien die son en ek voel die son. Ek gaan die swaar trollie moet stoot tot by die motor maar ek kan nie kla nie want ek kan ‘n trollie stoot. Ek kan al die dinge doen en ek kan nie eers ‘n glimlag op my gesig sit daaroor nie, wat staan nog soos die kind skaterlag oor ek met iemand se klere speel en dit my soveel geluk kan bring terwyl ek sonder bene in ‘n rolstoel sit en afhanklik moet wees van ander om dinge te dra en te stoot.
Ons mense kla maklik oor die klein dinge in die lewe en vergeet so maklik om net te glimlag of sommer uit pure simpel wees net te skaterlag. Dis met ‘n skuldgevoel dat ek weer by die huis gekom het en nie regtig iets kon of wou sê toe my buurman oor die heining loer en begin vertel van sy slegte dag. En op sy vraag van hoe dit met my gaan, dink ek aan die kind in die rolstoel, kyk af na my bene en sê, “Ek kan nie kla nie”.
