Die somervakansie is om die draai en ek glo baie lesers sien, soos ek, daarna uit om langs die water te wees.
Ons het laas gekyk na die soorte harde plastiese kunsvissies, spesifiek na oppervlakte-aas en vlaklopers, wat hierdie tyd van die jaar goed sal werk. Ons het ook bespreek hoe belangrik dit is om die drie-angelhoeke met nodige respek te hanteer (hoeke sê nie sorry nie).
Nog ‘n harde plastiese kunsvis wat goed sal werk, is een wat bekend staan as ‘n jerkbait. Dit is ‘n slanke klein vissie wat vaartbelyn gemaak is. Dit boots die klein vissies na wat onlangs uitgebroei het en nou in die vlakwater rondswem. Die aas se swemdiepte sal bepaal word deur die lengte en hoek van die aas se lip. Hoe korter die lip – hoe vlakker swem die vis.
Dit is ‘n goeie idee om die aas bietjie dieper te laat “swem” as wat die water diep is sodat die aas se neus heeltyd in die bodem vasduik en stof opskop soos ‘n klein vissie wat besig is om te wei.
Die kleur van die aas moet ook so na as moontlik die bait fish in die dam naboots. Die teikenareas is waar die klein vissies wei en wegkruip. Gewoonlik is dit by klippe wat met groen alge bedek is, struike in die water, riete, lelies en stompe. Die aas word verby die teikenareas gegooi en met kort plukkies ingebring. Indien die aas dryf, moet die hengelaar eers wag dat die rimpels op die wateroppervlak verdwyn voordat die aas ingebring word.
Indien dit ‘n countdown is beteken dit die aas sink teen een voet per sekonde. Dit wil sê, as jy in ‘n diep poel hengel en die vis iewers in die waterkolom hang (suspend), word die aas uitgegooi en getel, 1 001, 1 002, 1 003, ensovoorts totdat die verlangde diepte bereik word. Bring die aas dan met kort plukkies in om ‘n beseerde vissie na te boots.
Gooi altyd aan die skadukant van die teikenarea en gooi verskeie kere na verskeie plekke.
Omrede hierdie aas lig en klein is, is die beste stok om te gebruik ‘n spin-stok. Dit is die stokke met die groot ogies waaraan ‘n koffiemeulkatrol geheg word en met groen ligte lyn, 8 tot 10 pond monofilament, gelaai is.
Hoe dunner die lyn, hoe dieper sal die aas swem.
Sorg voor die tyd dat jou katrol se remstelsel reg gestel is want wanneer groot vis die aas met mening vat, moet die katrol bietjie lyn gee maar nie soveel dat die vis op loop gaan nie.
Swartbaars is bekend daarvoor – en dis juis hoekom ons daarvan hou om swartbaars te vang – dat hulle met asemrowende spronge uit die water klim en hulle koppe skud. Sodra jy agterkom die vis is oppad boontoe, moet jy jou stok se punt laag hou sodat hy nie die aas kan skud nie. Indien die lyn nie styf gehou word nie en die vis skud sy kop sal hy vir jou, jou aas terug gooi.
Nie alle bytseine is dieselfde nie. Soms vat die vis die aas met mening en ruk die stok omtrent uit jou hande, Ander kere voel jy die aas se vibrasies en
skielik is dit weg, en die lyn beweeg sywaarts. Ander kere voel dit of die aas skielik vassit. Is dit ‘n vis, of nie?
Ek tel my stok op en hou die lyn styf. Indien die aas werklik vassit sal dit ‘n dooie gevoel wees. As dit ‘n vis is, sal die lyn stadig “beweeg” óf jy sal die vis voel.
Kap vas en hou die lyn styf.
Die idee is om die vis moeg te speel voordat hy uitgehaal word. Hanteer die vis met respek en gryp hom aan die onderlip.
Moet asseblief nie aan die vis se lyf vat nie. Haal dan die hoek versigtig uit.
Onthou asseblief om eerder die groot teelvisse terug te plaas.Indien jy werklik vis wil hou vir die tafel, is een uit elke tien genoeg.
Haal dan ook eerder die kleiner visse uit. Meeste mense koop tog nie ou koeie in die slaghuis nie maar verkies eerder sagte lamvleis.
Volgende week kyk ons na verskeie hengelstroppe.
Wenk van die week:
Indien die vis terug swem na die teikenarea was dit die enigste vis daar. Indien die vis wegswem vanaf dié area is daar nog ander visse ook om te vang.
Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

