
Ek het ‘n paar weke gelede my top vyf sagte plastiekase aan die lesers bekend gestel wat insluit Mr Jumbo Grub, Super Fluke, Senko, Brush Hog en ‘n Horny Toad.
Al die ase kom in verskeie groottes, kleure en handelsname voor. Sommige se plastiek is sagter as ander en party het meer sout in as die res.
Ek verkies ‘n sagte plastiek want die vis hou die aas vir ‘n oomblik langer vas om vir my genoeg tyd te gee om te reageer.
Alles goed en wel, maar watter strop gebruik swartbaarhengelaars en wanneer?
Daar is verskeie bekende stroppe soos Texas-, Carolina-, Mojo-, Wacky-, split-shot, drop-shot en ‘n gewiglose strop. Elkeen van die stroppe het sy voor- en nadele en sekere tye wat elkeen die beste sal werk.
Kom ons begin met die Carolina-strop.
Die huidige droogte het groot dele van ons land in ‘n wurggreep en ons damme se watervlakke is laag. Dit beteken nie dat die hengel nou makliker is nie.
Inteendeel, die visse is net so “ge-stress” soos ons lanbougemeenskap.
Vir ons as hengelaars is dit moeilik om te bepaal waar die vis is. Al die sigbare skuilplekke sit nou hoog en droog buite die water. Al die plekke waar ons gewoonlik vis gekry het, is tot niet en ons moet nuwe areas soek. Daarvoor gebruik ons die Carolina-strop.
Met dié strop kan groter afstande en groot areas vinnig gehengel word. Die strop se sinker wat op die bodem sleep kan ons ook ‘n goeie aanduiding gee van wat op die bodem is. Byvoorbeeld, swartbaars hou nie van modderige bodems nie. Hulle verkies harde, klipperige bodems.
Soos wat die sinker nader kom, kan die hengelaar ook voel of daar grasbanke in die water is, of dalk ‘n drop-off of groot klippe.
Die strop bestaan uit ‘n voorslag en ‘n hooflyn. Ek begin deur eers ‘n wurm- óf ‘n wide gap-hoek aan die voorslag te knoop en gebruik die Palomar-knoop.
(Gebruik ‘n wurmhoek wanneer met sagte plastiese wurms, Brush Hogs, Senko’s óf grubs gehengel word en ‘n wide gap-hoek met Flukes en Horny Toads).
Die lengte van die voorslag word bepaal deur die waterhelderheid. Hoe skoner en helderder die water, hoe langer is die voorslag. In troebel water kan die strop so kort as 15 cm wees.
Aan die ander punt van die voorslag word ‘n sterk swivel gebind.
Ryg nou eers ‘n eier-sinker en dan ‘n glas kraletjie op die hooflyn (dit is die lyn wat reeds deur die stok se ogies geryg is en van die katrol af kom). Knoop nou die hooflyn aan die swivel.
Die grootte van die sinker sal afhang van die diepte en lynksterkte wat gehengel word. In baie diep damme soos Inanda en Injaka sal groter gewigte die aas vinniger op die bodem kry en hou. Hengelaars gebruik graag lood, brons en tungsten gewigte.
Die glas kraletjie beskerm die knoop teen die gewig wat heeltyd teen die swivel stamp. Die sinker se geklap teen die kraltejie trek ook die vis se aandag wat uit nuuskurigheid gaan nader swem om ondersoek in te stel.
Die kleur van die kraletjie het blykbaar nie enige invloed op visgedrag nie maar ek verkies om ‘n rooi of swart kraletjie te gebruik.
Met die watervlakke wat so laag is, is daar geen duidelike teiken-areas nie en hengel ek van links na regs. Ek dek die hele area voor my voordat ek aanbeweeg. In helder water sal ek aas soos Flukes, Senko’s en grubs gebruik.
In troebel water sal ek groter aas gebruik wat meer vibrasies uitstuur en sal grubs my nommer een keuse wees.
Wanneer die vis byt sal die sinker skielik “weg wees” want die vis het die sinker vanaf die bodem gelig. Ander kere is daar ‘n duidelike gepluk aan die lyn óf die lyn sal vashaak en ‘n spons-gevoel hê. Hoe ook al; kap vas en geniet die geveg.
Volgende week kyk ons na nog ‘n swartbaarstrop.
Wenk van die week:
Wanneer die water-vlakke so laag is, is dit nou die tyd om nuwe wegkruipplekke te skep, bestaandes af te neem en presies te merk waar hulle is sodat wanneer die damme weer vol is, jy presies weet waar om te gaan hengel.
Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.
