
Een van die mees bekendste swartbaarstroppe is die Texas-strop.
Hierdie strop word saam met sagte plastiese kunsaas gebruik wanneer die hengelaar in digte struktuur wil hengel. Dit wil sê wanneer die groot visse tussen die takke en gras skuil. Die meeste ander kunsaas en veral drie-angelhoeke sal iewers vashaak en afbreek.
Die Texas-strop lyk as volg: Ryg eers ‘n koeëlsinker (bullet weight) aan die hooflyn en knoop dan ‘n wurm- of wide gap-hoek aan die lyn. Ryg dan ‘n sagte plastiese kunsaas van jou keuse aan die hoek en maak seker die aas is weedless voordat dit uitgegooi word.
Die sinker se gewig sal afhang van die waterdiepte of die digtheid van die skuiling waarin gehengel word. Die goue reël is altyd; “so lig as moontlik”.
Indien die sinker swaar is en onnatuurlik by die vis verby val, is jou kans maar swak om iets te vang.
Tungsten-gewigte is baie gewild omrede dit ‘n klein profiel het en baie swaarder as lood is. Die nadeel is dat tungsten baie duurder is. Maak dus seker jou knoop is goed.
Oor die algemeen gebruik hengelaars loodsinkers wat in verskeie groottes beskikbaar is.
Hoofsaaklik is daar twee soorte hoeke, naamlik langsteel-wurmhoeke en groot wide gap-hoeke. Sonder om nou in te veel detail in te gaan word wurmhoeke gebruik met kunsaas wat lang slanke profiele het soos grubs, Senko’s, akkedisse en natuurlik wurms.
Ek gebruik wide gap-hoeke wanneer ek met Flukes en paddas hengel.
Dit is raadsaam om die sinker te peg, veral wanneer die vis tussen takke en bome wegkruip. Ek gebruik sommer ‘n tandestokkie om te keer dat die sinker teen die lyn rondgly. Die sinker word naby aan die hoek gepeg.
Volgende week kyk ons na nog ‘n swartbaarstrop.
Wenk van die week:
Plastiekwurms word hoofsaaklik gebruik vir struktuurhengel en is veral geskik vir diepwaterhengel.
Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

