BlogsOpinion

KATROLKOORS: Swartbaarhengelaars se gunsteling stroppe

In hierdie reeks oor swartbaarhengel is ons besig om na verskeie stroppe te kyk wat swartbaarhengelaars gereeld gebruik.

In hierdie reeks oor swartbaarhengel is ons besig om na verskeie stroppe te kyk wat swartbaarhengelaars gereeld gebruik.

Een van die gewildste stroppe en wat amper die meeste gebruik word is die Mojo-strop omrede die lengte van die strop maklik en vinnig verander kan word om by die hengelomstandighede aan te pas.

Hierdie strop lyk baie soos die Carolina-strop wat ons reeds bespreek het, met die verskil in die vorm van die gewiggie. Die Carolina-strop gebruik ‘n eiervormige sinker saam met ‘n glas kraletjie. Die Mojo-strop gebruik ‘n silindervormige gewiggie en ‘n rubbertjie wat die gewiggie in plek hou.

Die Mojo-strop is baie effektief wanneer daar in helder water, in grasbanke en tussen klippe gehengel word. Die silindervormige sinker gly makliker deur die vashaakplekke en eintlik swem die aas vry agter die gewiggie aan. Om die strop te maak word die hooflyn deur die silindervormige gewiggie geryg. Weereens, die goue reël in die keuse van die grootte van die gewig is: “So lig as moontlik”. Die gewiggie is bloot net daar om die aas op ‘n bepaalde diepte te kry.

Vir die moderne Mojo-strop gebruik ek ‘n bobber stopper wat karphengelaars goed ken. Dit is ‘n klein klein rubbertjie (in verskeie kleure beskikbaar) wat by die fabriek oor baie fyn klavierdraad getrek word. Die draadjies met al die stoppertjies is aan mekaar vas met ‘n geel handvatseltjie.

Druk die hooflyn se punt deur een van die stoppertjies se lus (loop) en skuif die stoppertjie oor, vanaf die draadjie op die lyn. Skuif dan die stoppertjie eers uit die pad en knoop ‘n vishoek aan die lyn. Skuif daarna die rubbertjie tot op sy plek om die lengte van die strop te bepaal.

Die gewiggie is vry om op die hooflyn rond te gly en word deur die rubbertjie gestop om ‘n sekere afstand van die hoek weg te bly. Persoonlik gebruik ek twee rubbertjies; een voor die gewiggie en een agter die gewiggie met genoeg afstand tussen die twee sodat die sinker heen en weer kan gly. Indien ek ‘n redelike swaar gewiggie gebruik, gebruik ek twee rubbertjies om die sinker op sy plek te hou. Die lengte van die strop hang af van die kleur van die water en die tiepe aas waarmee gehengel.

In skoon helder water is die afstand tussen die hoek en rubbertjie ongeveer 10 cm. In troebel water kan die afstand korter wees. Deur die rubbertjie heeltemal op te skuif tot teen die hoek verander die strop in ‘n Texas-strop wat weer binne in digte struktuur gehengel word. Oor die algemeen is die lengte van my Mojo-strop ongeveer 15 cm wat genoeg vry lyn aan die aas gee om meer natuurlik te swem.

Sodra die vis die aas optel gly die sinker op die hooflyn en voel die vis nie die ekstra gewig wat hom kan afskrik nie.

Wenk van die week:

Soms byt die visse so skelm dat jy dit nie eens agterkom nie. Wanneer jy die gewiggie dus nie meer voel nie, is dit ‘n goeie tyd om vas te kap.

Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

Een van die gewildste stroppe en wat amper die meeste gebruik word is die Mojo-strop omrede die lengte van die strop maklik en vinnig verander kan word om by die hengelomstandighede aan te pas.
Een van die gewildste stroppe en wat amper die meeste gebruik word is die Mojo-strop omrede die lengte van die strop maklik en vinnig verander kan word om by die hengelomstandighede aan te pas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button