POLOKWANE – “Wanneer ‘n baba natuurlik gebore word, is die eerste deel wat kroon, die eierdeel. Dit is in hiérdie deel van die brein wat die eerste suigrefleks lê. Daar is al bevind dat wanneer die baba natuurlik gebore is en hulle word op die mamma se maag gesit, dan wikkelkruip hulle tot by die ma se bors. ‘n Baba se eerste oorlewingsmylpaal is om te borsvoed,” verduidelik Rika.
Sy vertel dat ‘n baba leer om vas te suig deur gemasseer te word. “Massering kalmeer die baba. Gedurende die swangerskap was die baba beskut en het hulle heeltyd aanraking gevoel. Dus kalmeer aanraking hulle.”
Rika vertel dat die beste masseerroetine is om die baba op die kop, met jou vinger op hulle lip te vryf waarna jy jou vinger in hulle mond sit en hulle tong en verhemelte vryf. Met hierdie massering moet hulle tong uitkom.
“Dit is baie belangrik om self rustig te wees en ook jou baba rustig te maak. Stimuleer die baba se kroon en mond. Wanneer hulle huil gaan hulle nie kan suig nie. Ek sê altyd die baba se mond moet ‘n eendbekkie maak. Hulle tong moet die melkbeheer toepas. Hulle moet suig, sluk en asemhaal.”
Sy vertel dat ‘n baba aan beide borste moet drink en dat die oggendmelk meer voeding bied as die middagmelk.
“Spanning vat melk weg en om te borsvoed is seer, maar mammas gee te maklik en te vinnig moed op. Wanneer jy swanger is eet jy vir een en haal asem vir twee en as jy borsvoed haal jy asem vir een en eet vir twee. Borsvoeding is noodsaaklik en ‘n mens moet vir ‘n minimum van ses maande borsvoed. Daar is nie iets soos jou melk is te min of raak op nie. Hoe meer jy borsvoed, hoe meer raak jou melk.”
