BlogsOpinion

Nog ‘n boer…

Ek was nog wakker toe die boodskap op my foon deurkom: Nog 'n plaas is aangeval, die keer naby aan ons.

In die huis het my kind se maatjie van kleintyd vreesbevange weggekruip, terwyl haar pa doodgeskiet is en haar ma erg verniel is.

Soos ons maar is, is my eerste gedagte: Dit kan nie waar wees nie. Daar moet iewers ‘n fout wees. Dit kan nie hulle wees nie… hy kan nie dood wees nie.

Maar dit was en hy is.

Volgende voel ek dankbaarheid dat ons weereens gespaar is. En nee, ek dink nie soos iemand met wie ek gepraat het, dat ek meer waaksaam is of my man meer paraat nie. Nee, ek is dankbaar omdat ek bloot uit genade gespaar is.

Daardie nag droom ek weer die nagmerrie van 40 jaar terug: ‘Iemand kom by my oupa se huis in en beduie vir my met ‘n lang mes om stil te bly terwyl hy deur die venster klim’. Ons het die aanval seker met enkele minute gemis. Wat ons gesien het, was ‘n vertrapte brood, my ouma se bril wat stukkend op die stoep lê, glasstukke en bloed waar oupa altyd die bakkie onder die boom stilgehou het en Stompie, die hond, wat verwilderd uit die bosse aangehardloop kom.

Nou kan ek my indink hoe my ma en pa moes gevoel het. Ek was verward op daardie oomblik. Ons is dadelik na die bure toe, waar ons hulle gekry het – twee weerlose ou mense, vol bloed en glas, geskok en ontnugter tot in hul diepste wese.

Dit was verskriklik! Net soos enigeen wat dit al ervaar het, al is dit tweedehands, kan getuig. Die gevoelens bly dieselfde. Hoe is dit moontlik dat mense so met ander mense kan maak? Sommige mense glo dis polities. Hulle glo dat daar mense is wat boere so haat, dat hulle hulself organiseer en op vreesaanjaende wyse plase aanval.

Hulle eet seker nie.

Maar ek wil dit nie glo nie. Ek kan nie glo dat daar nog soveel haat in ons land oor is nie. Ek glo dis mense wat ‘n spesifieke agenda het, wat dit ookal is, weet die duiwel alleen.

Maar hoe erg is dit nie om die mense te teiken wat die kos op die tafel sit en die katoen plant en die wol skeer wat mens aantrek nie.

Daar is elemente in ons land wat so wreed is, teenoor boere, teenoor vroue en kinders, dat ‘n mens nie kan glo nie. Die meeste van ons is geskok hierdeur. Die meeste van ons mense is nie so nie.

Dit is lankal tyd vir ons om op te staan en te sê: Genoeg is genoeg! Ons wil nie meer sinnelose geweld in ons gemeenskappe toelaat nie, of dit ‘n meisie is wat verkrag word of ‘n boer wat geskiet word. Dis nou klaar!

Ek is moeg vir die verlamming van skok en vrees en die kanker van haat wat na so ‘n aanval weer van vooraf opvlam.

Ek is nou moeg om stil gemaak te word. Laat jou stem hoor as jy soos ek voel. Nie nog ‘n kind nie, nie nog ‘n vrou nie, nie nog ‘n boer nie.

editor@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button