Lim Blou Bulle vaar goed in topreeks
Die o/19- en o/21-rugbyspanne van die Limpopo Blou Bulle het goed gevaar in die Curriebekerreeks en beide spanne het tot die halfeindronde deurgedring.

POLOKWANE – Die o/19- en o/21-rugbyspanne van die Limpopo Blou Bulle het goed gevaar in die Curriebekerreeks en beide spanne het tot die halfeindronde deurgedring.
Die o/19’s het in ‘n taai halfeindstyd teen Boland te staan gekom by die Boland Stadion in Wellington op 4 Oktober. Teen halftyd was die telling gelykop met 13 punte elk.
Die tweede helfte was aksiebelaai, maar Boland het die laaste woord ingekry en die wedstryd 35-30 gewen.
Done Davids, Gerhard van den Heever en Ryan Robinson het elk ‘n drie gedruk vir die Blou Bulle en Charl Sander het met drie strafskoppe en drie vervyfskoppe geslaag.
Die o/21’s het ook deurgedring tot die o/21-Curriebekerhalfeindstryd en het teen die Oostelike Provinsie Kings uitgedraf by Framesby Hoërskool in Port Elisabeth op 3 Oktober.
Die Limpopo Blou Bulle het teen halftyd met 28-14 swaar getrek, maar in die tweede helfte met mening teruggeveg. Die Kings kon geen punte verder aanteken in die tweede helfte nie, maar het die wedstryd naelskraap met 28-26 gewen.
Corné Ras, Jovan Cookson, Oskar Calitz en Wolta Mtsweni het elkeen ‘n drie gedruk en Jean Grobler het met drie vervyfskoppe ge-slaag vir die Limpopo Blou Bulle.
Charles van Wyk, die vise-president van die Limpopo Blou Bulle Rugby-unie meen dat dit ‘n uitsonderlike prestasie is dat beide die spanne die halfeindstryde gehaal het.
“Die o/19’s en o/21’s neem nou al twee jaar deel aan die Curriebekerreeks en om reeds drie halfeindstryde op die kerfstok te hê tussen die twee spanne is bemoedigend,” vertel van Wyk.
Die o/21 Limpopo Blou Bulle het verlede jaar ook deurgedring tot die Curriebeker half-eindstryd.
Van Wyk meen dat die twee spanne se welslae net verder bewys dat Limpopo se rugby op die regte pad is.
“Daar word geleenthede geskep vir ons provinsie se rugbyspelers en ons sal natuurlik ook van die o/21’s na die Vodacombeker-span herlei en bou aan ‘n wen-Vodacomspan. Ek glo dat ons binne ‘n seisoen of twee die vrugte sal pluk,” voeg Van Wyk by.
“Die geleenthede vir jong rugbyspelers in Limpopo is aansienlik meer as wat dit destyds was,” verduidelik Van Wyk.
“Ons het bewys dat Limpopo talent het en dat ons teen ons portuur kan kompeteer.
“Die Limpopo Blou Bulle bedank die gemeenskap en sakelui vir hulle deurlopende ondersteuning.”



