Sport

Rugbysukses wink vir 7’s ster Nick

Nick Enslin is een van die top o/18-skrumskakels in Limpopo en sy toekoms lyk blink.

POLOKWANE – Nick Enslin is een van die top o/18-skrumskakels in Limpopo en sy toekoms lyk blink.

Nick, wat tans besig is met sy gr. 12-eindeksamens aan die Hoërskool Pietersburg, vertel hoe hy verlede jaar vir die Rhinos-sewesrugbyspan in Mauritius uitgedraf het.

Hy is ook onlangs gekies om vir die Oostelike Eagles Rugbyklub te speel in ‘n internasionale toernooi wat in Dubai sal plaasvind.

Hy speel reeds van gr. 8 af vir PHS se eerstesewesrugbyspan en draf ook die afgelope twee jaar al vir die Pieties se eersterugbyspan uit.

Van dissipline en toegewydheid kan Nick getuig.

“In die rugbyseisoen oefen ek 90 minu-te in die gimasium en twee ure op die veld elke dag. Buiteseisoen oefen ek steeds elke dag vir 90 minute in die gimnasium, maar net ‘n uur op die veld,” verduidelik hy.

Nick, wat ook vir die Limpopo Blou Bulle se o/18-Cravenweekspan uitgedraf het vanjaar, is gemotiveerd en doelgerig om ‘n suksesvolle rugbyloopbaan te bou.

“My plan is om volgende jaar in Potchefstroom vir die rugby-akademie te speel terwyl ek geesteswetenskappe studeer en saam met die Luiperds se o/19-span oefen. Ek wil ook vir die Young Guns speel in Potchefstroom en uitendelik vir die Goue Leeus uitdraf,” vertel Enslin.

Hy vertel hoe plaaslike afrigter, Freek Romijn, ‘n groot impak op sy spel gehad het asook hoe Regardt Kleingeld hom van ‘n flank na ‘n skrumskakel verander het.

Sy pa, Riaan, wat provinsiale rugby gespeel het en vir Bath in Engeland uitgedraf het, vertel ook dat hy besonder trots is op Nick.

“Rugby is vir my ‘n wonderlike spel, dit leer mens sportmanskap, disspiline, spanwerk. Wanneer jy op die veld is kan jy nie doen wat vir jou die beste is nie, jy moet doen wat vir die span die beste is. Rugby leer mens ook uithouvermoë,” sê Nick.

Hy vertel ook dat hy graag soos Jaco Kriel en Derick Minnie wil speel.

“Hulle speel nou wel nie in my posisie nie, maar hulle is jong spelers en het vir hulself naamgemaak. Ek sal ook graag, wat die skrumskakelposisie aanbetref, soos Will Genia van Australië wil speel,” sê Nick.

Sy raad vir laerskoolrugbyspelers is om nooit tou op te gee nie.

“In my laerskoolloopbaan het ek nie vir die eerstespan gespeel nie, ek het in gr. 6 vir die derdespan gespeel en vir die tweedespan in gr 7.

“Ten spyte van wat jy nou dink en of jy voel dat jy nie jou drome kan bereik nie, is dit steeds moontlik. Wanneer jy in die hoërskool kom verander die spel en van dan af moet jy harde werk insit en sien of rugby jou spel is of nie.

“As jy voel asof jy nêrens kom nie moet jy net nog ‘n bietjie vasbyt en deurdruk, jy weeet nooit wanneer kom daardie draaipunt in jou rugbyloopbaan nie,” verduidelik Nick.

“As jy opgee kon jy millimeters voor jou draaipunt opgee. Byt eerder vas en werk harder,” voeg hy by.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button