Olie die fietswiele vir die Makhulu 5-wedren
Laatslapers wat aan die jaarlikse Makhulu 5 Mountain Bike Challenge wil deelneem en nog nie aanlyn ingeskryf het nie, kan môre (Vrydag) en Saterdagoggend nog by Mall of the North inskryf. Inskrywings kan môre (Vrydag) van 17:30 tot 19:00 by Trappers in Mall of the North of Saterdag vanaf 06:00 tot 07:00 by die wegspringpunt …
Laatslapers wat aan die jaarlikse Makhulu 5 Mountain Bike Challenge wil deelneem en nog nie aanlyn ingeskryf het nie, kan môre (Vrydag) en Saterdagoggend nog by Mall of the North inskryf.
Inskrywings kan môre (Vrydag) van 17:30 tot 19:00 by Trappers in Mall of the North of Saterdag vanaf 06:00 tot 07:00 by die wegspringpunt gedoen word. Wedrennommers kan ook tydens dieselfde tye afgehaal word terwyl tydelike wedrenlisensies teen R35 te koop is.
Die 65 km-wedren begin om 07:30 met deelnemers in die 35 km wat 15 minute later wegspring. Om 08:00 durf fietsryers die 15 km-pretrit aan. Inskrywings kos onderskeidelik R190, R150 en R50.
Roy Kirkpatrick, een van die organiseerders, sê die jongspan kan om 11:00 naderstaan vir die kinderresies wat om 11:15 begin en in die parkeerarea by die restaurantingang plaasvind. Inskrywingsfooi is R30 per kind met kategorieë vir twee tot drie jaar, vier tot vyf jaar en ses tot sewe jaar. Inskrywings vir die rit kan ook môremiddag by Trappers of Saterdag van 09:00 tot 11:00 in die parkeerarea gedoen word.
Polokwane Pedallers Cycling Club (PPCC) bied jaarliks die ren met groot sukses aan en beloof om bergfietsryers ‘n avontuur van ‘n leeftyd te bied omdat die roete uit teer- en grondpad, modder, sand en selfs smal bospaadjies bestaan. Die ergste deel van die roete is teen ‘n koppie op wat veral ‘n uitdaging vir beginners sal wees.
Prysgeld is op die spel vir die topdrie posisies in die 70- en 35 km-wedren en ryers wat aan die pretrit deelneem, kan ook pryse verwag.
Vir meer inligting kan Kirkpatrick by 082 443 7807 of
PPCC-voorsitter, Ronel Delport by 084 515 7739 geskakel word.Fietsryers wat nie valhelms dra nie, sal nie toegelaat word om deel te neem nie.
RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



