Polokwane Observer se waterpunt weer die beste
Vir die derde keer het die energieke en entoesiastiese span van Polokwane Observer loshande die eerste prys Saterdag as beste waterpunt tydens die Modern Autohaus 4-in-1 Road Race opgeraap. Die aankondiger van die pryse het nie doekies omgedraai nie: “Polokwane Observer gaan uit sy pad uit om atlete met die beste te trakteer. Julle waterpunt …
Vir die derde keer het die energieke en entoesiastiese span van Polokwane Observer loshande die eerste prys Saterdag as beste waterpunt tydens die Modern Autohaus 4-in-1 Road Race opgeraap.
Die aankondiger van die pryse het nie doekies omgedraai nie: “Polokwane Observer gaan uit sy pad uit om atlete met die beste te trakteer. Julle waterpunt word uiters professioneel beman, julle gees is ‘n aansporing vir dié met moeë bene en julle bedien baie meer verversings as wat by ‘n tradisionele waterpunt aangetref word,” het Johan van Vuuren van Polokwane Atletiekklub onder luide toejuiging van die dankbare atlete gesê.
Personeel het douvoordag aan die werk gespring om seker te maak dat al die behoeftes van die atlete bevredig word. Benewens yskoue water en koeldrank is kragkos soos aartappels, piesangs, jellielekkers en malvalekkers voorsien. Elke langasem is individueel gemotiveer, toegejuig en aangemoedig om vas te byt en deur te druk.
Die span het ook seker gemaak dat daar genoeg sout, smeergoed en noodhulpmiddels soos pleisters byderhand was om die atlete se pyne en skete draagliker te maak.
RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com






















