Topswemmer takel Afrika se beste binnekort
Polokwane huisves vele sportsterre wat wêreldwyd naam maak en die jong Ude Fuchs, ‘n matriekleerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) is ‘n swemmer waarmee rekening gehou moet word. Ude, ‘n lid van plaaslike swemklub, Eagar Aquatics se prestasie van twee goue, twee silwer- en een bronsmedalje tydens die Suid-Afrikaanse Junior Swemkampioenskappe in Maart het vir hom …

Polokwane huisves vele sportsterre wat wêreldwyd naam maak en die jong Ude Fuchs, ‘n matriekleerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) is ‘n swemmer waarmee rekening gehou moet word.
Ude, ‘n lid van plaaslike swemklub, Eagar Aquatics se prestasie van twee goue, twee silwer- en een bronsmedalje tydens die Suid-Afrikaanse Junior Swemkampioenskappe in Maart het vir hom ‘n plek in die span wat Suid-Afrika by die African Junior Games in Angola in Desember sal verteenwoordig, verseker.
Die kranige swemmer het in Augustus verlede jaar aan die junior wêreldkampioenskappe in Maleisië tot die semifinaal in die
100 m-vlinderslag deurgedring.
“Ek is baie opgewonde, maar verwag dat die kompetisie taai gaan wees. Intussen oefen ek hard en berei goed voor. Ek hoop om medaljes huis toe te bring en my tye te verbeter,” sê hy.
Ude weet nog nie aan watter items hy gaan deelneem nie. “Ek hoop om aan die 100 m- en 200 m-vlinderslag en die 100 m-rugslag deel te neem omdat my beste tye in dié slae is en ek dit die meeste geniet.”
Sy ideaal is om volgende jaar by een van die beste swemklubs in Durban aan te sluit om sy swemloopbaan te bevorder. Hy kan nog nie te veel uitlap nie, maar hoop om moontlik binnekort ‘n studiebeurs uit die buiteland te ontvang.
Eagar Aquatics se hoofafrigter, Douggie Eagar sê hy is trots op Ude. “Hy is ‘n ywerige en hardwerkende swemmer en verdien alle eer wat na sy kant toe kom. Sy toewyding sal hom nog baie medaljes in die sak bring.”
Ude is onlangs deur die departement van sport, kuns en kultuur tydens die Limpopo Sports Awards as Sportman van die Jaar aangewys en het verskeie toekennings tydens Eagar Aquatics se prysuitdeling verower.
Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto: Ude Fuchs van Eagar Aquatics neem in Desember aan die African Junior Games in Angola deel.



