Sport

Ierland wink vir liggaamsbouer

Die 22-jarige Piere Schmahl was stomgeslaan toe hy tydens die National Amateur Body Building Association of South Africa (NabbaSA) se nasionale kompetisie in Pretoria met die louere weggestap het. Die gogga het hom nou behoorlik gebyt en hy wil met mening vorder en verder uitblink. Schmahl het tydens die eerste nasionale kompetisie waaraan hy deelgeneem …

Die 22-jarige Piere Schmahl was stomgeslaan toe hy tydens die National Amateur Body Building Association of South Africa (NabbaSA) se nasionale kompetisie in Pretoria met die louere weggestap het.
Die gogga het hom nou behoorlik gebyt en hy wil met mening vorder en verder uitblink.
Schmahl het tydens die eerste nasionale kompetisie waaraan hy deelgeneem het, nie net met die goue medalje in die beginners­afdeling weggestap het nie, maar boonop gekwalifiseer om Suid-Afrika in November by die World Fitness Federation (WFF) se wêreldkampioenskappe in Dublin, Ierland te verteenwoordig.
“Na skool het ek van Phalaborwa na Polo­kwane verhuis en ‘n wegbreekjaar geneem, maar vinnig verveeld geraak en by die gimnasium aangesluit om besig te bly. Fiksheid en veral liggaamsbou het gou my belangstelling geprikkel,” sê Schmahl.
Dit was nie vir hom moeilik om in die roe­tine te kom nie omdat hy nog altyd goed na homself gekyk het. “Ek was nog altyd besorg oor my uiterlike welstand. In Polokwane het ek ernstig begin oefen om in topvorm te kom. Kort voor lank het my afrigter, Francois Basson my onder sy vlerk geneem en vir kompetisies begin voorberei.”
Schmahl sê hy het ongeveer 15 weke voor die uitdunrondes begin voorberei. “’n Oefenprogram is baie belangrik, maar die eetplan is belangriker. My dieet bestaan hoofsaaklik uit vis, rys en patats. Ek moet redelik baie vis eet wat nogal duur is, maar moet vasbyt en gefokus bly.”
Die bekende akteur, Arnold Schwarzenegger is sy rolmodel. “Hy is bekend vir sy prestasies in klassieke liggaamsbou. Ek streef ook daarna om in dié styl te presteer omdat atlete wat buitengewoon groot is, nie vir my aantreklik is nie. Ek verkies om so natuurlik moontlik te bly.”
Sy droom is om sy ProCard te verwerf sodat hy internasionaal aan professionele kompetisies kan deelneem. ‘n Goue medalje tydens die wêreldkampioenskappe sal dié deure vir hom kan oopmaak
Schmahl het egter finansiële hulp nodig om sy droom na te streef. Hy benodig ongeveer R20 000 om in Ierland deel te neem en be­langstellende borge kan hom by 072 513 4625 skakel.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Pierre Schmahl en sy afrigter, Francois Basson. (foto verskaf )

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button