Jonk en oud neem na 30 jaar aan Straatmyl deel
Ongeveer 155 atlete het verlede Woensdagaand geskiedenis gemaak deur aan die eerste Straatmyl wat weer na drie dekades gehou is, deel te neem. Oud en jonk het die kans aangegryp om hul fiksheid te toets of om sommer net vir die pret saam met die res van die familie deel te neem. Atlete het in …

Ongeveer 155 atlete het verlede Woensdagaand geskiedenis gemaak deur aan die eerste Straatmyl wat weer na drie dekades gehou is, deel te neem.
Oud en jonk het die kans aangegryp om hul fiksheid te toets of om sommer net vir die pret saam met die res van die familie deel te neem. Atlete het in Suidstraat, naaste hoek Ooststraat weggespring en by die Polokwane Atletiekklub (PAC) se klubhuis by die ou Peter Mokaba Stadion geëindig.
“Geen wenners is aangewys nie omdat al die inskrywingsgeld ten bate van die Polokwane Kinder- en Gesinsorgvereniging is. Nietemin het elke deelnemer ‘n medalje ontvang waarna hulle met lekker koue drinkgoed by die wenstreep bederf is,” sê organiseerder, Pieter Pretorius.
Hy meen die wedloop gaan definitief ‘n jaarlikse geleentheid word en dat die klub beplan om volgende jaar prysgeld te hê.
Een van die atlete wat uitgestaan het, was die 15-jarige Edward Bannau in die juniorkategorie wat die 1,6 km in 4:25 kafgedraf het.
“Polokwane bied verskeie wedlope aan en met die Straatmyl hoop ons om die atletieksirkel byna te voltooi. Al wat die stad nog nodig het, is om ‘n ultramarathon aan te bied,” sê Pretorius.
Storie en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto: Junioratlete voor die wegspring.






