Pietersburg Road Runners opgewarm vir Comrades
Pietersburg Road Runners koester hoë verwagtinge van sy span van 20 atlete wat Sondag aan die moordende Comrades-marathon tussen Durban en Pietermaritzburg gaan deelneem en het Saterdagoggend terwyl die dou nog dik op die Polokwane Rolbalklub se bane gelê het, by hul klubhuis bymekaargekom om vir oulaas span te bou. Elke atleet het ‘n ‘goody …

Pietersburg Road Runners koester hoë verwagtinge van sy span van 20 atlete wat Sondag aan die moordende Comrades-marathon tussen Durban en Pietermaritzburg gaan deelneem en het Saterdagoggend terwyl die dou nog dik op die Polokwane Rolbalklub se bane gelê het, by hul klubhuis bymekaargekom om vir oulaas span te bou.
Elke atleet het ‘n ‘goody bag’ met ‘n T-hemp, koffiekoppie, waterbottel en peuselhappies ontvang en die sakke kan ook na die marathon gebruik word om die atlete se hardloopskoene in te bêre. Elkeen het ook ‘n bottel rooiwyn met spesiaal gedrukte etiket met die spanlede se name daarop ontvang om as ‘n aandenking te bewaar.
Volgens klubvoorsitter Greg Keartland het die atlete reeds verlede jaar in November begin oefen en gaan die atlete nie in ‘n groep reis nie. “Ons gaan almal Vrydag die Comrades-ekspo in die Internasionale Konferensiesentrum in Durban bywoon en ons nommers daar ontvang. Vrydag gaan ons nie te hard kuier nie maar gaan beslis saam ‘n middagete geniet. Saterdag rus ons en Sondag is ons douvoordag by die wegspringpunt,” sê Keartland.
Die klub gaan ook ‘n halfwegstalletjie by Arthur’s Chair beman waar die atlete van hul items soos broeke kan omruil en hul sakke aanvul. “Ons neem ook ‘n ondersteuningspan van ten minste ses lede saam,” voeg Keartland by.
Dries Stoltz neem vanjaar aan sy 12de Comrades-marathon deel en gaan met die nommer (1374) van voormalige lid van die klub, Erika Bantjes hardloop. Bantjes het verlede jaar in ‘n motorongeluk omgekom. Sy en Dries was vir jare hardloopmaats.
Betty Matshitisho het reeds tien Comrades-marathons afgelê en Noelene Maré en Jacques van Blerk neem in die rug-aan-rug afdeling deel. Mapula Mathiba en Ernest Rossouw is nuwelinge wat vanjaar aan hul eerste Comrades-marathon deelneem. Adel Matotaka is die oudste lid van die span wat vanjaar deelneem en Martinique Potgieter is die jongste.
Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com







