Stoeiers maak reg vir Afrika-kampioenskappe
Woordvoerder Joyce Swan, sê dit is die grootste groep wat in baie jare gekwalifiseer het om na die Afrika-kampioenskappe te gaan.
POLOKWANE- Stoeiers van die Ion Baciu Gimnasium is tans hard besig om voor te berei vir die Afrika Stoeikampioenskappe, waarvoor sewe stoeiers asook afrigter Jan Roets gekies is om aan deel te neem.
Die kampioenskappe word van 15-21 Mei in Hammamet, Tunisië gehou. Roets is as afrigter vir die senior spanne gekies.
Die woordvoerder van die gimnasium, Joyce Swan, sê dit is die grootste groep wat in baie jare gekwalifiseer het om na die Afrika-kampioenskappe te gaan.
“Ons is baie trots op almal wat gekwalifiseer het. Hulle het hard gewerk om die span te haal. Een van ons stoeiers, Lourens Putter moes ongelukkig weens ‘n besering onttrek. Die groep het tydens ‘n oefenkamp in Maart die finale keuring gehad, waarna hulle die goeie nuus gekry het.”
Die reis na Noord-Afrika het groot koste-implikasies en die klub beoog ‘n gholfdag op 12 Mei met die hoop om nog geld in te samel.
Die jongste stoeier wat na die kampioenskappe toe gaan is 15 jaar oud en die oudste is 30.
Daar is ook twee vrouestoeiers, Katelyn Swan en Lené van As.
Die ander stoeiers is Roedie Roets, Steyn de Lange, Kegan Coetzee, Igue Kabesa en Marais Hattingh.
As jy finansieel wil bydra, kontak die klub by [email protected].




