Bosveld SportSport

Tree vir tree draf hy aan

'N HANDJIE vol mense kan sê, hulle het al meer as 70 000 km kaf gedraf, 17 pare tekkies gaar gedraf en die wêreldbekende ultra-marathon, die Comrades, 24 keer voltooi.

MOKOPANE – ‘N HANDJIE vol mense kan sê, hulle het al meer as 70 000 km kaf gedraf, 17 pare tekkies gaar gedraf en die wêreldbekende ultra-marathon, die Comrades, 24 keer voltooi.

PC Botha (73), ‘n bekende inwoner van Mokopane, het vir die eerste keer tydens ‘n kuier by sy niggie in 1982 die Comrades op televisie aanskou en daar en dan besluit, “om die wilde perd op te saal.”

In 1985 voltooi hy sy eerste Comrades in 10:08 min. “Toe ek in 1985 vir die eerste keer oor die eindstreep gedraf het, het ek besef die drafgogga het my nou behoorlik gebyt,” sê PC met ‘n breë glimlag.

Hy vertel aan Bosveld dat hy meer van ‘n rugbyspeler was tydens sy skooljare in Schweizer Reneke en dat hy sy liefde vir draf per toeval ontdek het. “Dit was tydens een rugbyoefening wat ons 5 myl van die sportgronde afgelaai is met die opdrag om terug te draf en tot my verbasing het ek ‘n tweede plek opgeraap.”

“PC spog al met oor die 30 jaar se welverdiende medaljes en trofeë,” vertel Annetjie, sy vrou trots. Hulle kyk vir mekaar en glimlag asof hul mekaar gister ontmoet het en PC sê, “ons het in 1972 in Johannesburg ontmoet en ‘n jaar later het sy my die gelukkigste man op aarde gemaak deur met my te trou. Sy is nog altyd my grootste ondersteuner.”

PC en Annetjie het saam ‘n dogter Ilse en hul sê gelyktydig dat sy en die kleinkinders, Renzo (8) en Hanro (4) baie trots is op hul fikse oupa.

In 2010 het Renzo, toe drie jaar oud, ‘n vlaggie as ondersteuning vir sy oupa gegee, PC het die Comrades vlag in die hand voltooi en vandag pronk die vlaggie op ‘n aksie foto teen die muur.

“My beste tyd en my grootste trots was in 1988, ek het aan my skoonpa gesê dat my doel is om die Comrades in minder as 8:30 min te voltooi en hy het geantwoord en gesê in daardie geval betaal ek jou inskrywingsgelde, ek voltooi die comrades daardie jaar in 8:28 min, my beste tyd nog.”

Wanneer jy hom vra wat is sy grootste inspirasie en motivering, antwoord hy vinnig en met groot opgewondenheid, “die jong mense, ek wil saam met hul kan draf en met hul kan kompeteer, hulle motiveer my om harder te oefen.”

Hy vertel dat hy soveel as moontlik oefen en op Vrydae en Sondae rus, en dan dink hy ‘n rukkie en sê: “wat baie interessant is in al my jare wat ek so draf, het ek al altesaam R1 600 opgetel.”

Vra jy hom of dit sy laaste Comrades was, sê hy vasberade volgende jaar saal ek weer daardie perd op en dan sal ek hom voltooi. Annetjie lag en sê tergend: “hy sê elke jaar hierdie jaar is my laaste Comrades.” Nie net spog PC met die voltooïng van die Comrades 24 keer nie, maar het hy ook al 67 ultra-marathonne, 210 marathonne en 200 21 km’s op sy draf kerfstok, waarvan hy twee keer die 2 Oceans afgelê het.

Sy beste tye in die onderskeie afdelings is; 4:08 min in die 50 km, 4:44 min in die 56 km, 5:06 min in die 60 km, 39:42 sekondes in die 10 km, 2:06 min in die 28 km, 1:04 min in die 15 km, 2:32 min in die 32 km, 3:19 min in die 42 km en 1:29 min in die 21 km.

PC is al ‘n trotse lid van die Potties Atletiekklub sedert dit in 1985 gestig is. “Die lede van die Potties Atletiekklub is ‘n mal klomp lekker mense wat altyd saam staan. Daar is beslis nie nog so ‘n klub nie.”

“Ons het ‘n tradisie dat die Maandagoggend 05:00, voor die Comrades eet ons koek by een van die lede wat die Comrades vir die eerste keer aanpak.” Hy bedank sy vrou, dogter en kleinkinders asook sy atletiek-familie vir al die ondersteuning deur die jare. “Ek dank ook ons Hemelse Vader vir Sy groot genade en seën.” PC is nou weer hard aan die oefen om volgende jaar die 91ste Comrades marathon en sy 25ste Comrades aan te durf.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button