Smit broers wys trapvernuf by Tour de Lip
Die broers van Mokopane, Arno en Carl Smit, het hul saalvernuf gewys en trap 'n eerste en tweede plek in die afdelings vir sub-junior boys en youth boys los.
MOKOPANE – MEER as 200 bergfietsryers het verlede Saterdag aan die Tour de Lip op Louis Trichardt deelgeneem wat ook die laaste been van die Limpopo Debtsafe Skolebergfietsreeks was.
Die broers van Mokopane, Arno en Carl Smit, het hul saalvernuf gewys en trap ‘n eerste en tweede plek in die afdelings vir sub-junior boys en youth boys los.
Carl verwerf ook sy Limpopo-kleure en gaan op 3 Oktober aan die Suid-Afrikaanse Bergfietskampioenskappe op Bekkersdal deelneem.
Die Laerskool Krugerpark en Hoërskool Piet Potgieter se ander bergfietsryers kan hulself ook op die skouers klop na hulle pragvertonings in vanjaar se skolebergfietsreeks.
Die Krugies het algeheel vierde geeïndig uit die 12 deelnemende laerskole, terwyl Piet Pot se fietsryers algeheel sewende was uit die 14 hoërskole wat vanjaar ingeskryf het.
Met die skolebergfietsreeks nou agter die rug is Debtsafe weer die borg van die Cansa Bergfiets-uitdaagresies wat op 10 Oktober by Shikwaru Lodge buite die dorp gehou word. Meer as 300 fietsryers gaan mekaar daar die stryd aansê.
Hein du Plessis, besturende direkteur van Debtsafe, is opgewonde oor die roete. Debtsafe is sedert 2013 borg van dié opwindende buitelug-sportavontuur en Du Plessis nooi die gemeenskap om te kom deelneem of die dag saam te kom geniet.
Daar sal ook ‘n kort roete van 2 km wees vir kinders tussen 5 en 10 jaar, terwyl die 10 km pretroete weer groot aftrek behoort te kry.
Vir die meer gesoute fietsryers is daar ‘n 35 km en 75 km rit wat ‘n kwalifiserende resies vir Limpopo-kleure is.
Die uitslae van die Krugies se fietsryers wie aan die Tour de Lip deelgeneem het, is as volg:
Youth boys – Stephan Bekker kry ‘n sesde plek, Ruben van Tonder was 12de en Johanno van Tonder eindig 16de.
Nipper girls – Rentia Bekker raap ‘n negende plek op.
Spogs boys – Herman Brummelkamp kom 25ste, Johan Mostert was 28ste en SJ van Heerden verwerf ‘n 29ste plek.
Sub-junior boys – Arno Smit is eerste oor die wenstreep en Eldric Bekker sesde.
Die uitblinkers van Hoërskool Piet Potgieter was:
Youth Boys – Carel Smit eindig tweede en Emile Sinclair 25ste.




