Top skut Adriaan Steyn mik na Olimpiese Spele
Bosveld het Adriaan genooi om by ons op kantoor te kom kuier.
MOKOPANE – Ses jaar gelede het ‘n jonge Adriaan Steyn, tans ‘n matriekleerder aan die Hoërskool Piet Potgieter, vir die eerste keer ‘n skoot met ‘n luggeweer geskiet en vandag is hy een van die top veerskuts in ons land.
Adriaan het onlangs Mokopane se naam hoog gehou tydens sy vyfde Suid-Afrikaanse Luggeweerskietkampioenskappe, waar hy ‘n silwer medalje in die drie posisie (3P)-afdeling (lê, kniel en staan) verwerf het en algeheel in die sesde plek geeïndig het uit 72 top veerskuts van reg oor die land.
Bosveld het Adriaan genooi om by ons op kantoor te kom kuier
Wanneer en hoe het die skietgogga jou gebyt?
My ma, Anne-Marie, het een middag opgewonde met die voorstel na vore gekom nadat een van haar vriendinne haar vertel het hoe baie haar seun dit geniet. Aanvanklik was dit vir my ‘n vreemde idee, maar toe ek my eerste skoot skiet het ek geweet dit is beslis nie die laaste keer nie.
Wat maak die sport vir jou uniek?
Luggeweerskiet het vir my die geleentheid gebied om ons land beter te verken omdat die kompetisies op verskillende plekke reg oor Suid-Afrika gehou word. Die uniekheid lê daarin dat dit nie net ‘n tydelike sport is nie, maar ‘n vaardigheid en ‘n dissipline wat jy lewenslank kan toepas.
Op watter prestasie is jy die trotste?
Dit is vir my ‘n groot eer om vir die laaste vyf jaar Limpopo by die SA’s te kon verteenwoordig. In 2014 het ek ‘n brons medalje in die 3P-afdeling verwerf en vanjaar het ek ‘n silwer medalje in dié afdeling huis toe gebring. Dit was ook die eerste jaar dat ek ‘n plek in die finaal losgeskiet het en algeheel ‘n sesde plek verower het.
Hoe voel dit om die tweede beste veerskut in die 3P-afdeling en algeheel die sesde top skut in ons land te wees?
Onwerklik! Ek is baie dankbaar dat ek die vrugte van my harde werk kon pluk, maar ek wou graag die trofee as algehele wenner Limpopo toe gebring het.
Wat maak die SA’s na vyf jaar steeds spesiaal en wat gaan jy die meeste mis?
Oor die 400 top skuts van reg oor die land kom vir vyf dae bymekaar waar elkeen hulle vernuf op die proef stel wat sorg vir tawwe kompetisie. Ons almal deel ‘n passie en die atmosfeer gedurende die kampioenskappe is staties. Ek gaan sonder twyfel die kuier gedurende hierdie tyd met my afrigter, Willem Klemp, en die spanlede die meeste mis.
Wie is jou grootste ondersteuners?
My afrigter, Willem Klemp, en my sussie, Annalize. Ek en sy praat dieselfde skiettaal.
Wat gaan jy die meeste van die skietklub mis?
Vir die laaste ses jaar was my afrigter en die ander skuts my tweede familie. Dit voel skoon vreemd om te dink ek gaan nie volgende jaar twee keer ‘n week by die klub inklok nie. Ek gaan ook die reis deur ons land mis. Die SA’s in Kaapstad bly een van vele hoogtepunte in my skietloopbaan.
Jy sluit binnekort jou skoolloopbaan af. Wat is jou toekomsplanne?
Ek gaan onderwys aan die Varsity College in Gauteng studeer en is vreeslik opgewonde om die wêreld buite Potties beter te leer ken.
Sluit jou toekomsplanne skiet in?
Ek wil bittergraag volgende jaar aanhou skiet en is besig om die moontlikhede te ondersoek. My plan is om by die South African Air Rifle Association (SAARA) aan te sluit, my Protea-klere te verwerf en, wie weet, dalk sien julle my vorentoe by die Olimpiese spele, skerts hy ernstig.
Adriaan bedank sy afrigter wie hom nie net skietlesse geleer het nie, maar ook lewenslesse. Hy bedank sy ma, Anne-Marie, en sy pa, Johan, wat hierdie ongelooflik geleentheid vir hom moontlik gemaak het en in besonder sy sussie, Annalize, vir haar ondersteuning en wyse raad.






