Briljante ovaalbaan-aksie herleef
Bosveld Wedrenklub nooi die gemeenskap uit om die volgende resies later dié maand te kom geniet. Sien die uitslae van Saterdag se wedrenne hier.
MOKOPANE – Die nuwe promotors, Koos Prinsloo en Jack Smith, het ‘n passie vir dié sport en is baie positief oor die wedrenne wat buite die dorp op die ovaalbaan gehou word. Hierdie was maar net die begin, sê Karien Ruytenberg wie se gesin ywerige motorwedrenjaers is.
“Die eerste wedrenne wat aangebied is onder die bestuur, het goed afgeloop en ten spyte van motorjaers wat op die laaste nipper gekanselleer het, was daar genoeg motors om die publiek goeie waarde vir hul geld te gee. Daar was ‘n paar nuwe jaers van die dorp wat hul eerste verskyning gemaak het en daar is ook ‘n paar motors wat gebou word wat vorentoe ingespan gaan word.”
Saterdagaand se wedrenne het afgeskop met die Rookieklas. In hierdie beginnerklas was al drie die jaers van Bosveld Wedrenklub. En al drie jaers is nog kinders, sê Karien.
Dit was die heel eerste keer wat twee van die rookies gery het en die twee nuwelinge is meisies.
Wian Jordaan het hom egter nie laat afskrik deur die skoner geslag nie en het seker gemaak hy stap met die eerste plek weg. In die tweede plek was Juanita Bekker gevolg deur Elizka Ruytenberg.
Die stockrod-klas het soos oudergewoonte vir baie vermaak gesorg. “Hierdie is ‘n baie kompeterende klas en die manne moet werk vir hulle posisies. Afgesien van ‘n goeie aand, kan Joseph Bothma homself ongelukkig ag nadat hy sy motor in die finaal teen die muur afgeskryf het. Johan Thiart was eerste oor die wenstreep met Stefan Pieterse op sy motor se stert. Herman Nel was derde.”
Karien vertel Boela Bekker het kom spog met sy nuwe pinto-motor. “Ongelukkig was daar nie vir hom kompetisie nie, en het hy saam met die 1660-klas gejaag. Boela stap dus weg met die eerste plek trofee in die Pinto-klas.”
In die 1660-klas het die Coopers weer hul verskyning op die baan kom maak na ‘n lang afwesigheid. Dié klas het gesorg vir ‘n warm resies. JJ Fourie van Polokwane Oval het daarin geslaag om die wentrofee voor die neuse van die Pottiesmanne op te raap. Louis Ruytenberg (jnr) was tweede met Johan Thiart in die derde plek.
Bosveld Wedrenklub spog nou ook met sy eie Super Saloons. Hierdie saloons is afkomstig van Vereeniging en is eintlik grondbaanmotors. Die jaers was gou tuis op die teerbaan en daar is hard gespook vir wenplekke. Tinus Smith was eerste verby die wenvlag met Joseph Smith in die tweede plek en Herold Kotze derde.
Die volgende resies is op Saterdag, 25 Junie. Bring die hele gesin en kom geniet ‘n opwindende aand saam met die jaers en hul brullende motors.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za





