Jongspan wys hóé
Die atmosfeer tydens Laerskool Krugerpark se bulletjierugby- en mini-netbaldag verlede Saterdag was elektries gelaai met altesaam 1 300 ywerige spelers wat hulle harte op Krugies se sportvelde en bane uitgespeel het.

MOKOPANE – Die immergewilde dag is deur 14 top skole van regoor Limpopo bygewoon en meer as 2 000 toeskouers het die verskeie spanne luidkeëls toegejuig.
Die eerste wedstryde het om 08:00 afgeskop en binne etlike minute het daar groot opgewondenheid op en af van die velde geheers. Die kragmetings tussen die onderskeie o/6-, o/7- en o/8-bulletjies het vir witwarmaksie gesorg. Die bulletjies het blitsvinnig gehardloop en die bal vir mekaar aangegee in ‘n poging om ‘n drie te druk.
Op die netbalbane het die onderskeie o/6-, o/7-, o/8- en o/9-spanne sake uitgespook en hulle vernuf opgeskerp. Die dag was ‘n reuse sukses en die jongelinge het hulself gate uit geniet. Die skool bedank al die borge, in besonder Pick n Pay, vir hulle bydrae tot die dag se sukses.
Hierby foto’s van Ockert van der Westhuizen en een van Bosveld se lersers wat die aksie op die velde en bane vasgevang het.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za











