Bosveld SportSport

Koue stuit dié renjaers min

Bosveld Wedrenklub het verlede Saterdag weereens gesorg vir warm wedrenne wat die koue vinnig verdryf het op die Ovaalbaan buite Mokopane.

MOKOPANE – Karien Ruytenberg was langs die baan om haar gesin te ondersteun wie almal ywerige wedrenjaers is. Sy vertel aan Bosveld die adrenalien het op en af van die baan af behoorlik gepomp. “Daar is in vyf klasse deelgeneem en die renjaers van Pretoria en Polokwane het Potties se manne die stryd kom aansê en hard baklei vir die wenplekke. In die Rookie-klas het die jong opkomende renjaers weer gewys hulle is baie kompeterend en mekaar goed opgekeil om aan die einde van die aand met ‘n trofee te kan wegstap,” sê Karien.

Juanita Bekker het dit reggekry om die wentrofee voor Allan Cunningham van Pretoria weg te raap met Wian Jordaan derde.

Karien sê hierdie jong renjaers het ‘n goeie sportmansgees en ‘n paar van die ouer garde kan gerus by hulle leer. Tydens die wedrenne het Cunningham haar dogter, Elizka, gehelp toe haar motor probleme gegee het. Klein Wian van Potties het ook sy derde plek-trofee oorhandig aan Zandalee Smith van Pretoria.

Die stockrod-klas het vir opwinding gesorg, hoewel ‘n paar van die renjaers weens motorprobleme moes tou opgooi en aanvaar dat die aand se trofeë buite hulle bereik gaan bly. Attie de Witt het met die eerste plek weggestap met Polokwane se Nico Grebe tweede en Stefan Pieters derde.

Soos gewoonlik het die 1660-klas vir witwarmwedrenne gesorg. Potties se renjaers het als ingesit teen die jaers van Pretoria met Boela Bekker wat eerste oor die eindstreep is en Louis Ruytenberg (jnr.) kort op sy hakke. Kevin Goncalves van Pretoria was derde.

Aangesien daar nie ander Pinto-klas inskrywings was nie, moes Banie Oelofse met sy Pinto teen die renjaers van die 2liter-klas jaag. Hy het als ingesit teen die vinniger motors om sy Pinto-trofee te verdien. Die 2 liter-klas se wenner was Johnny du Randt (snr.) met Desmond Bosch van Polokwane tweede en Johnn du Randt (jnr.) derde.

Die Hanwill-broers het ook hulle verskyning kom maak.

Ongelukkig moes WB van Niekerk langs die baan sit omdat sy motor nie wou saamwerk nie. Sy broers, Edwin en Rian, het mekaar behoorlik gejaag. Edwin raap die eerste plek op met Rian tweede.

Karien vertel die aand is soos tradisie vereis, afgesluit met die ‘Butchers Race’. “Dis die wedren waar al die renjaers van al die klasse saam deelneem. Geen wenner word aangewys nie en die renjaers ontvang ‘n vlag aan die einde om te wys elkeen is ‘n wenner in eie reg.”

Bosveld Wedrenklub sê dankie aan SOS Ambulansdienste. Hulle het ook vir pret gesorg deur die kinders te nooi om saam in die ambulans om die baan te ry. Die klub bedank die Mogalakwena Verkeersafdeling wat dit moontlik gemaak het vir van die renjaers om Saterdagmiddag deur die dorp te ry om die aand se wedrenne te adverteer en vir die inwoners te wys wat op hulle wag. “Die renjaers het dit baie geniet en dit was’n groot voorreg om deur die verkeersafdeling ondersteun te word,” sê Karien.

Die klub sê ook dankie aan Midas en al die borge wat die sportsoort ondersteun, asook die renjaers en lojale ondersteuners.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button