Veelsydige atlete presteer
Die stad se atlete wat gekies is om Limpopo tydens die Suid-Afrikaanse Biathle, Triathle en Laser Run kampioenskappe te verteenwoordig kan hulle self op die skouer klop.
MOKOPANE – Die atlete het onlangs by die Forever Resorts in Bela-Bela deelgeneem en pragprestasies behaal. Armanda Kruger en haar drie spuite, Kurt, Lené en Gerard het op Vrydag, 25 Julie, saam met SJ Kemp, Danré Grove, Kobus van Wyk, Morné van der Bank, Martin Brits en Anél de Vos die Biathle voltooi. De Vos is na afloop van hardloop en swem gekies vir die Sampa-span en Armanda en Kurt het plekke in die presidentspan opgeraap.
Die volgende dag het Armanda en haar kinders, asook Anél, Morné en Danré aan die Triathle kampioenskappe deelgeneem waar daar vir vier rondes geskiet, geswem en gehardloop is. Anél, Morné en Armanda het elk ‘n silwer trofee gekry en Kurt ‘n brons trofee. Morné en Anél is ook gekies vir die Sampa-span en Danré en Lené vir die presidentspan.
Die Suid-Afrikaanse Laser Run kampioenskappe is op Maandag, 27 Junie, gehou en weer het Mokopane se sportsterre nie teleurgestel nie. Daar is vir vier rondes geskiet, en gehardloop. Kurt het ‘n tweede plek verower, Armanda ‘n derde plek en Kobus ‘n vierde plek in hulle ouderdomsgroepe. Kurt en Armanda is vir die Sampta-span gekies en Kobus het die presidentspan gehaal.
Die atlete wat vir die Sampa-spanne gekies is in Biathle en Triathle kan einde Oktober in die VS aan die wêreldkampioenskappe deelneem, terwyl diegene wat vir die Laser Run Sampa-span gekies is aan die wereldkampioenskappe in Portugal kan gaan deelneem wat van 1 tot 4 September gehou word.
Die atlete bedank Fanie Kemp van Basic Blue Trading vir die borg van die Limpopospan se hemde. Indien daar enige besigheid of persoon is wat belangstel om die atlete te borg vir die wêreldkampioenskappe, kan hulle Armanda by 082 336 1401 kontak.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za











