Gholfglorie vir Krugies
Laerskool Krugerpark se onderwysers en leerders loop breëbors nadat vier van die skool se voorste gholfspelers tydens die sesde Ernie Els SA Laerskole Kampioenskappe in Port Shepstone koning gekraai en met die louere weggestap het.
MOKOPANE – Die kampioenskappe wat op 5 en 6 Augustus aangebied is, het top spelers van regoor die land getrek en uiters mededingende gholf in die twee-dag stryd opgelewer.
Die Krugies se Percy Hawken, Declan Brews, Johanco Welgemoed en Ryan Nel het na die eerste ronde met ‘n gekombineerde telling van 241 die voortou geneem en die eerste dag op ‘n wennoot afgesluit.
In die finale ronde het die spelers nie vir die sterk kompetisie teruggedeins nie. Declan het 80 houe aangeteken, Percy 83 en Johanco het 97 houe tot hulle algehele telling van 260 bygedra. Die gedugte span het met ‘n totaal van 501 geseëvier.
Percy het die gesogte eerste plek in die top tien met 159 houe met Divan Mostert van Laerskool Saamtrek op Klerskdorp gedeel en Declan het ‘n tweede plek met 160 houe opgeraap.
Al vier die spelers is ook lede van die Kameeldoringgholfklub en Percy, Declan en Johanco (gr. 7) speel al vir meer as vier jaar saam, Ryan (gr. 6) het onlangs by die bobaasspan aangesluit. Die gholfers van Laerskool Jullian Muller op Groblersdal het as Limpopo naaswenners hulle staal in dié kampioenskappe gaan wys en ‘n algehele vyfde plek met ‘n totaal van 530 beklink.
Die twee Lim-spanne het mekaar deurentyd ondersteun en in die vreugde van mekaar se oorwinnings gedeel. Skoolhoof Johann Vertongen, sê: “Die spelers het teen die room van die land se gholfers meegeding en die trofee huistoe gebring. Ons bars uit ons nate van trots.”
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za






