Wenhou vir CVO
Die CVO-Skool Potgietersrus het Saterdag hul gholfdag by die Kameeldoring Gholfklub gehou en die spelers en ondersteuners het die dag behoorlik geniet.
MOKOPANE – Volgens Jan Harmse, Skoolhoof, was die dag ‘n groot sukses en is daar ‘n reuse bedrag geld ingesamel toe 86 spelers die gholfbaan in verskeie spanne aangedurf het om 18 putjies klaar te speel.
“Ek wil net dankie sê aan almal wat deel was van die dag. Ons het ‘n vol veld gehad wat ‘n lekker potjie gholf gespeel het. Ek bedank ook die klub self, want sonder hulle sou ons nie ‘n plek hê om ons dag aan te bied nie.”

Die wenners van die dag het met lekker vleispryse weggestap tydens ‘n prysuitdeling wat later die aand gehou is.
Van die wenners was so gaaf om hulle pryse op te veil en sodoende terug te gee aan die skool.
Ongeveer R30 000 is hierdeur ingesamel.

Die span wat koning gekraai het met hulle spelers is Jan Klopper, Liezel Klopper, Antoinette de Vos en Hans Human met 113 punte op ‘n uittel.
Hulle het elk 7 kg koedoebiltong en -droëwors gewen.
Die spelers wat tweede gekom het is Bennett van der Gryp, Freddie van Wyk, Lukas Potgieter en Frikkie van der Wath (Span IPEX) met 112 punte op ‘n uittel en hulle het elkeen 5 kg blouwildebeesbiltong en -droëwors opgeraap.

Die spelers wat ‘n algehele derde plek behaal het met 111 punte op ‘n uittel is Erhard Spies, Mauritz Mahne, Riaan Foord en Adriaan Foord.
Hulle het elkeen rooibokbiltong en -droëwors losgeslaan.

Die vier spelers naaste aan die pen was Talha Mayet, Lukas Potgieter, Johan Niemandt en Martin Koekemoer.
Die speler met die langste dryfhou was Mauritz Mahne.

Adriaan Foord was naaste aan die pen op putjie vier.




