Local sportSport

Durf en daad vir sukses

Sempai Danny Janse van Vuuren is 'n inspirasie vir plaaslike skopboksgeesdriftiges en word beskou as 'n nederige man wat dié vegkuns se leefstyl vervolmaak het.

POLOKWANE – Sempai Danny Janse van Vuuren is ‘n inspirasie vir plaaslike skopboksgeesdriftiges en word beskou as ‘n nederige man wat dié vegkuns se leefstyl vervolmaak het.

Danny het reeds as ‘n 14-jarige in 1994 begin met skopboks as ‘n sport en sy toewyding is wat vir sy afrigter, sensei Nico Myburgh van Limpopo Sport Kickboxing Karate Academy die meeste uitstaan.

“Danny het in 16 jaar nog nie ‘n oefensessie gemis nie, en al was hy siek het hy nooit van oefeninge weggebly nie. Danny hou tans ‘n derde graad swart gordel in skopboks,” vertel Myburgh.

Volgens sy afrigter lê Danny se sterk punt in die vegkuns by sy spoed met beide hande en voete, ‘n deel van die sport waaraan Myburgh baie aandag gee.

Danny het nog altyd teleurstellings goed hanteer en opgee is en was nog nooit vir hom ‘n oorweging nie.

Myburg verduidelik dat Danny nederig is en aanhou volhard as hy nie ‘n podiumplek by ‘n kompetisie behaal nie.

“Hy is ‘n voorbeeld vir die sport en selfs gevorderde skopboksers respekteer hom geweldig baie, vernaam as dit kom by volharding en toegewydheid,” verduidelik Myburgh.

Hy vertel ook hoe Danny die afgelope sewe jaar hard gewerk het om goeie uitslae te behaal en hoe die goue medalje hom ontduik het tot die Galaxy WAKO interprovinsiale kompetisie in Kemptonpark vroeër vanjaar.

Hier het hy sy doel bereik en ‘n goue medalje in die ligte kontak afdeling verwerf. Danny het ook ‘n silwer medalje in die semi-kontak afdeling gewen na ‘n paar “moordende” gevegte.

“Danny neem gewoonlik met van die beste vegters deel in ‘n baie kompeterende afdeling.

“Dit is dan ook hoekom hierdie goud so spesiaal was vir ons, daar was menige mense by die toernooi wat nie hulle trane kon terughou toe hy sy medalje ontvang nie,” verduidelik Myburgh.

Danny is tans besig met voorbereiding vir die Suid-Afrikaanse NMA/ISKA kampioenskappe wat in Augustus in die Wes-Kaap gehou word.

“Ons is besig met verskeie vegstrategieë en sien uit daarna,” vertel Myburgh.

Een van Danny se drome is om SA-kleure in skopboks te verwerf en sien baie uit na hierdie opkomende toernooi wat sy droom kan laat realiseer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button