Anton Dreyer skiet hoog bo-oor die kompetisie
Daar is nie veel wat jy vir Anton Dreyer kan vra oor boogskiet waarvoor hy nie 'n antwoord het nie.
POLOKWANE – “Dit is ‘n sport waarin jy baie kan bereik maar dis iets waaroor jy eers goed moet dink voor jy begin,” vertel hy.
Sowat 12 jaar gelede het Anton saam met een van sy vriende ‘n boogskietkompetisie bygewoon. “Daar het die gogga my gebyt. My vrou het vir my verjaarsdag daardie jaar vir my ‘n boog gekoop en dit was van daar af my sport.”
Sy raad aan mense wat daaraan dink om ‘n boog te koop is om seker te maak van watter tipe boog die beste vir hulle is voor hulle een koop.
“Jy kan nie enige boog vir enige iets gebruik nie en dit maak dat die sport nogal baie tegnies is,” verduidelik hy.
Hy sê sy liefde vir die sportsoort het baie gegroei en hy neem graag aan kompetisies deel en het in 2011 sy Protea-kleure verwerf. Daar was ‘n paar klubs wat deelgeneem het in nasionale kompetisies maar Limpopospanne het nooit teen mekaar kompeteer nie. Hy het toe ‘n Limpopoliga voorgestel.
Dié liga het gehelp dat atlete nie net teen mekaar binne die klub kompeteer nie maar ook teen ander klubs en só is daar nege skuts Amerika toe om aan ‘n kompetisie deel te neem. Anton vertel met groot trots dat hy die span Amerika toe geneem het en dat al die nege Limpopospanlede medaljes verwerf het. Hy sê dat alhoewel hy nie meer aan kompetisies deel neem nie hou hy steeds daarvan om te jag. “Die sportsoort was vir my lekker toe my seun nog saam met my geskiet het. Hy was vyf jaar oud toe ek hom aan boogskiet voorgestel het en hy het ook in later jare sy Protea-kleure verower,” vertel Anton.
Hy vertel dat alhoewel hy nie meer self skiet nie, hou hy daarvan om ander af te rig en dat daar veral leerders is wat steeds by hom kom raad en leiding kry.



