Jong uitblinker gooi raak
Vir Andri Marais is jukskei een van die lekkerste sportsoorte om aan deel te neem en dit is duidelik aan die string toekennings wat sy al met die sport ingepalm het.
POLOKWANE – Andri neem vir al amper ‘n dekade aan jukskei deel en het vroeg in haar loopbaan al begin naam maak. Sy het op die ouderdom van 11 jaar aan die sportsoort begin deelneem en het nou al vir ses opeenvolgende jare Suid-Afrikaanse kleure vir die sportsoort verwerf.
Sy is vir die afgelope twee jaar die kaptein van die Springbokspan. Haar liefde vir die sportsoort het ontwikkel omdat sy fisies nie aan kontaksport kon deelneem nie as gevolg van haar gesondheid.
Vandat sy die eerste keer ‘n skei opgetel het is sy gek na die sportsoort. Nou, nege jaar later, sê sy dit is ‘n sportsoort wat sy vir niks anders in die wêreld sal verruil nie.
“Dit is ‘n baie uitdagende sportsoort omdat jy vir jouself doelwitte stel waarop jy kan verbeter. Ek beveel die sportsoort vir almal aan, dit is ‘n sportsoort wat geskik is vir almal, van oud tot jonk.”
Sy verduidelik dat die spel aan die begin nie besonder tegnies is nie maar dat dit wel meer uitdagend raak hoe verder ‘n mens vorder.
“Dit is wel vir my hartseer dat die sportsoort nie baie blootstelling kry nie, nie net hier in Limpopo nie, maar landswyd,” sê sy.
Andri oefen twee dae per week en het onlangs ‘n skoleafrigtingskliniek gehou om te help met blootstelling vir die sportsoort in die stad en om mense, veral leerders, aan te moedig om hul slag met die skeie te proef.
Sy vertel trots dat daar ‘n sewejarige seun is wie deel is van die Limpopospan wie gereeld sy slag in die sportsoort wys. “Daar is ‘n wanbegrip dat jukskei ‘n oumenssport is wat glad nie waar is nie. Dit is ‘n sportsoort wat ideaal is vir die hele gesin om saam aan deel te neem en op ‘n aktiewe en gesonde manier tyd saam te kan spandeer,” verduidelik sy.
Sy beoog om eendag vir die Suid-Afrikaanse Vroue Jukskeispan te speel.



