Groot toekoms in skopboks vir Lee
Skaars langer as een meter, is Lee Kleinhans 'n skopbokskrag om mee rekening te hou.

POLOKWANE – Op die skamele ouderdom van 12-jaar het dié leerder van Laerskool Pietersburg al 20 medaljes ingepalm waarvan slegs haar eerste een silwer was, sedertdien is tweede plek net nie vir haar goed genoeg nie en ryg sy net goue medaljes in.
Lee neem deel aan skopboks sedert die ouderdom van nege en het haar 20ste medalje tydens ‘n onlangse kompetisie in Brakpan ingepalm.
“Skopboks is nie vir my ‘n moeilike sport nie en ek geniet dit baie. Ek beplan om so lank as moontlik aan te hou daarmee,” vertel sy.
Haar raad aan ander meisies wat ook aan skopboks wil deelneem maar bang is dat dit slegs ‘n sport is vir seuns, is dat hulle dit gerus moet probeer, dalk verbaas hulle hulself. “Skopboks is baie pret en enige iemand kan daaraan deelneem en dit geniet, meisies ook.”



