Local sportSport

Texas wag op twee skuts van Polokwane

Die twee is genooi om aan die Wêreldkampioenskappe vir Kleiduifskiet deel te neem

POLOKWANE – ‘N kleiduif is ‘n pieringvormige stukkie gebakte klei of ander materiaal wat in die lug gebruik word as ‘n teiken om te skiet.

Dié sport word met ‘n haelgeweer beoefen en twee vroue van Polokwane is onlangs genooi om na die Wêreldkampioenskappe vir Kleiduifskiet te gaan.

Aletta Montgomery en Amelda Greyling het vanaf 26 April tot 30 April in Paarl aan die finale Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deelgeneem waar beide die kwalifiserende gemiddeld van 92% vir vroue behaal het.

Amelda Greyling in aksie besig met kleiduifskiet. (Foto: Clint Montgomery)

“Dit beteken dat jy met ‘n duisend kleie, oor agt verskillende kompetisies, 92% raak moes skiet. Daar is slegs voorsiening vir drie vroue in Suid-Afrika om na die wêreldkampioenskappe te gaan, maar net ons twee het gekwalifiseer,” vertel Greyling trots.

Sy skiet reeds van 2000 af kleiduif en het in 2003 ‘n kwota plek by die Olimpiese Spele in die Olimpic Trap dissipline behaal. Ongelukkig kon sy dit nie bywoon nie en het terselfdertyd besluit om op te hou met skiet. In 2013 het sy weer saam met haar kinders begin skiet en skiet nou in die dissipline “skeet”.

“Skeet is wanneer daar twee kleie gelyktydig vanuit twee veskillende rigtings gevlieg kom en jy altwee apart moet raakskiet.”

Aletta Montgomery in aksie besig om kleiduif te skiet.. (Foto: Clint Montgomery)

Montgomery het in 2015 blootstelling aan die sport gekry toe Greyling haar vir ‘n pretdag by die kleiduifskietbaan genooi het.

“Na 25 skote het ek geweet dat ek die sport wil beoefen en het ek vir my man, Clint, gesê dat dit die sport vir my is. Ek het nie veel ondervinding in skiet nie en het net af en toe op die plaas as kind geskiet. Met hierdie sport moet ‘n mens senuwees van staal hê.”

Die lekkerste van die sport vir Montgomery is dat dit jou vir ‘n wyle laat vergeet van jou daaglikse lewe aangesien dit net jy, die geweer en die klei is.

Die klei nadat hy deur Amelda Greyling geskiet is (Fto: Clint Montgomery)

Vir Greyling is dit die adrenalien wat daarmee saamgaan.

“Dit is ook ‘n uitdaging om met ‘n vryhand ‘n bewegende item te skiet.”

Beide vertel dat dit harde oefening neem om konstant raak te skiet en dat ‘n skut baie deursettingsvermoë moet hê.

“Jy is na die tyd moeg want jy konsentreer heeltyd. Die geringste afleiding kan veroorsaak dat jy mis skiet,” vertel Greyling.

Hulle vertel dat hulle ‘n familie van skuts gemaak het regoor Suid-Afrika en dat die sportmanskap tussen almal baie lekker en gesond is.

Van Januarie tot kort voor die laaste kompetisie in April, het hulle elke dag geoefen, en hulle vertel dat dit nie een van jou goedkoopste sportsoorte is nie, aangesien patrone baie duur is.

“Vir ons toer na Texas waar die Wêreldkampioenskappe gaan plaasvind, moet ons alles self betaal, van vliegtuigkaartjies en verblyf, tot registrasiegelde en ons patrone wat ons daar aankoop. Ons beplan ‘n geldinsamelingsinitiatief om ons te help met geld vir die toer,” vertel hulle. Hulle bedank ook hul families wat hulle ondersteun en dra en sê dat hulle sukses nie moontlik sou wees sonder die ondersteuning wat hulle families vir hulle gee nie.

editor@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button