Local sportSport

Jarelange toewyding word beloon

Een van die jongste JKA-styl vyfde dan karatekas in die land woon in ons midde.

POLOKWANE – Jare se toewyding het uiteindelik vrugte afgewerp vir Chris van Rensburg, wie ‘n karate instrukteur saam met sy pa, Piet is, by die JKA Pietersburg Karateklub.

Van Rensburg het op Saterdag 6 Mei vir sy vyfde dan swart gordel gegradeer. Dit maak hom een van die jongste JKA-styl vyfde dan karatekas in Suid-Afrika. Hy word later vanjaar 34 jaar oud.

Onder die wakende oog van sy pa en afrigter wie ‘n sesde dan swart gordel instrukteur is, het van Rensburg as ‘n ses jarige aan karate begin deelneem. Op die ouderdom van 13 jaar oud as ‘n Laerskool Pietersburg-Noord leerling, verwerf hy sy eerste swart gordel in 1988. Vanjaar 19 jaar later, spog Chris beskeie met sy vyfde dan.

Van Rensburg, wie die IT (inligtingstegnologie) bestuurder is by Northern Academy vir die afgelope ses jaar, het by die Hoërskool Noorderland gematrikuleer.

“Dit is altyd ‘n mylpaal om graderings te behaal, maar hierdie vyfde dan graderig is baie spesiaal. Veral omdat ek al ses jaar vir hierdie oomblik gewag het. Karatekas gaan nie eenvoudig net om te gradeer nie, jy word op spesiale versoek uitgenooi om te gradeer deur die hoogste gesag van JKA karate in Suid-Afrika. Dit vat ook baie voorbereiding om vir ‘n gradering voor te berei, wat dit selfs meer die moeite werd maak vir my,” sê van Rensburg.

Van Rensburg se mening oor karate is dat dit een van die kontaksportsoorte is wat ‘n mens aan kan deelneem tot op ‘n ouderdom wat dit nie meer menslik moontlik is om aan deel te kan neem nie.

“As mens byvoorbeeld na ‘n kontaksport soos boks kyk, is daar ‘n sekere ouderdom of tydperk waar boksers eenvoudig die handskoene moet ophang. In karate kan jy selfs tot op die ouderdom van 70 nog deelneem. Dis ‘n lewenslange sportsoort. Karate, ek praat nou spesifiek van die JKA-styl, is daar kontak, maar dis glad nie soos boks of deesdae se EFC-hokgevegde nie,” sê van Rensburg.

Sy pa en mentor by die klub sê hy is baie trots op sy seun se mylpaal.

“Sy toewyding tot JKA-karate is voor die hand liggend. Hy het sedert sy deelname as kind aan die sport nooit opgehou deelneem en oefen nie. Daaroor is ek baie trots op hom,” sê van Rensburg se pa.

Piet het ook aan Review vertel dat Van Rensburg ‘n gekwalifiseerde senior JKA-skeidsregter is. Hy is by verlede jaar se Suid-Afrikaanse JKA-kampioenskap as een van agt hoofskeidsregters aangewys uit die sowat 80 skeidsregters wat van regoor Suid-Afrika verteenwoordig is.

“‘n Aspek van karate, is dat dié sportsoort mens baie leer van respek vir jou medemens, self-respek en hoe om beskeie te wees. Dit is waarom hierdie Oosterse gevegskuns vir my so wonderlik is,” sê van Rensburg.

 

roelof@nmgroup.co.za

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button