In die kol vir skuts
'n Gesellige atmosfeer met skote wat tussendeur klap het inwoners by die Bosveld Jagtersvereniging (BJV) se skietbaan verwelkom gedurende 'n skietkompetisie op Saterdag.
POLOKWANE – Skuts het die geleentheid gehad om hul vernuf en akkuraatheid op die proef te stel om te sien waar hulle in die onderskeie afdelings is en om te sien of hulle vir die komende skietkompetisie kwalifiseer.
Die skietkompetisie is deel van die Jagterskonfederasie van Suid-Afrika (Chasa) se sportskietdissipline en lede van Chasa-organisasies regoor die land neem daaraan deel.
Na die kompetisies word daar ‘n ranglys deur Chasa saamgestel waar die skuts se prestasies angeteken bly.
Die skietseisoen begin op 1 Augustus elke jaar en eindig op 31 Julie die volgende jaar.
Daar is dus nog net Julie se skietkompetisies oor vir skuts om vir ‘n plek op die ranglys te kwalifiseer.
Tans bekleë Roelof Myburgh van BJV die eerste plek op die Chasa nasionale ranglys in die opeklas en Rudi Myburgh die tweede plek in die opeklas in die senterslagjaggeweerafdeling.
Daar is twee afdelings tydens die kompetisie wat die .22 randslag en semi-outomatiese geweer-afdeling is.
In dié afdelings is daar ook ‘n opeklas afdeling waar enige senterslag geweer van enige vergroting teleskoop gebruik kan word.
In die standaardklas word slegs gewere wat 24 duim (610 mm) lengte lope of korter en lope wat dunner as 22 mm toegelaat en die skuts mag nie met ‘n teleskoop wat sterker as 12x vergroting het skiet nie.
Altesaam het daar 47 skuts hulle merk in die skietkompetisie gemaak.
Resultate:
• Rudi Myburgh behaal die hoogste telling in senterslagjaggeweerstandaardklas met 570 uit 600.
• Johan Grimbeek behaal die hoogste telling in senterslagjaggeweeropeafdeling met 600 uit 600.
Hy behaal ook die hoogste telling in die .22 randslagopeklas.
• Hester Myburgh behaal die hoogste telling in die senterslagjaggeweerstandaardklas vir vroue met 485 uit 600.
• Anita Gerhardt behaal die hoogste telling in senterslagjaggeweer in die opeklas.
• Leon Nel behaal die hoogste telling in die .22 randslagstandaardklas.







