Local sportSport

Jukskeikliniek ontwikkel talent van stad se jonges

Ongeveer 60 leerders van skole in die stad, asook van Mogwadi (Dendron), het Saterdag by die bane van Limpopo Jukskei Unie byeengekom vir 'n junior afrigtingskliniek wat deur die sport se unie aangebied is.

POLOKWANE – Leerders van onder meer Laerskole Pietersburg en Pietersburg-Oos, Dendron Primary, Elica Primary, HTS Tom Naudé en Hoërskool Pietersburg het deelgeneem.

Volgens Madelein Ray, voorsitter van Pietersburg Jukskeiklub en direkteur van finansies by die Limpopo Jukskei Unie, is hulle as organiseerders van hierdie geleentheid baie tevrede met die hoeveelheid leerders wat hul opwagting gemaak het. Sy sê die huidige eksamen het moontlik verhoed dat meer leerders Saterdag se geleentheid kon bywoon.

Volgens Ray mik Limpopo Jukskei Unie om voor die skoleliga vanaf 26 Augustus weer ‘n soortgelyke kliniek te hou. Sy sê intussen is daar die Pietersburg Klub se opedag op 29 Julie en hulle nooi spelers en nuwelinge tot die sport uit om te kom deelneem.

“Saterdag se junior jukskeikliniek is meerendeels vir die ontwikkeling van spelers, hetsy beginners wat nog nooit aan ‘n skei geraak het nie, tot die gevorderde spelers wat net graag hul tegnieke wil verbeter,” verduidelik Ray.

Volgens haar is daar verlede jaar agt laerskole en sewe hoërskole wat onderskeidelik in die Limpopo skoleligakampioenskap deelgeneem het.

“Hopelik hierdie jaar sal daar dieselfde hoeveelheid of selfs meer wees. Ons moes juis die skoleliga verskuif van ‘n Vrydagmiddag na ‘n Saterdag toe, omrede soveel spanne deesdae deelneem.

Hierdie klinieke word gehou om te poog om jukskei as eg-Suid-Afrikaanse sport te ontwikkel en ook spelers vir die junior Suid-Afrikaanse kampioenskap in Desember voor te berei.

Mense wat belangstel om jukskei te speel, of hul kinders aan die sport te laat deelneem, kan Pietersburg Jukskeiklub se sekretaris, Naas Cornelius by 071 283 4857, of die klub se voorsitter Madeleine Ray, by 082 566 8235 skakel.

roelof@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button